Kegan (12-jarige Downsindroomlyer) sorg vir vermaak by radiostasie
VANDERBIJLPARK. - Die skattige Kegan Holl, 'n 12-jarige verlamde Downsindroom-seuntjie van die dorp, het onlangs by Zander Steyn van 90.6 FM by die radiostasie gaan kuier.
As deel van 90.6 FM Stereo se OpenHandsProjek het Zander besluit om na Kegan uit te reik. Hy het Kegan se ma, Krystle genooi om die radiostasie te besoek.
“Ek het in die ontvangs vir haar gewag en was aangenaam verras om Kegan saam met haar te sien. Wat ‘n bondeltjie vreugde is hy nie. Ons het gelag en gesels en hy is lekker bederf,” vertel Zander. “Kegan is mal oor WWE en het almal vermaak deur letterlik elke stoeier se signature handbewegings na te maak.”
Krystle het op omroeper Ed se program, “Overdrive,” Kegan se verhaal met die luisteraars gedeel. “Sy was nie bewus van die hele plan nie, en toe Ed aan die einde van die program aan haar ‘n koevert oorhandig, was die ongelooflike verligting sigbaar,” vertel Zander.
Die kontant bedrag wat aan hulle geskenk is, kan nie genoem word nie, maar soos Krystle later per Whatsapp die stasie laat weet het, sy het “amper van haar bed afgeval toe sy sien wat die stasie aan haar geskenk het”.
“Met so ‘n reaksie het ons dadelik geweet dat ons die regte familie en mense gehelp het,” sê Zander.
Zander het die OpenHandsProjek in 2017 begin toe hy besluit het dat die stasie ‘n verskil in mense se lewens kan maak. In samewerking met RPM Armature Winders in Vanderbijlpark, het dié projek reeds baie mense in die gemeenskap se lewens verryk.
Om iemand (persoon, familie of instansie) te nomineer vir die OpenHandsProjek, stuur ‘n SMS na 35 906, begin die sms met OPENHANDS gevolg deur die persoon se naam en ‘n kort beskrywing.
“Ons is bevoorreg om te kan doen wat ons doen . Ons leuse is: To live your life with an open hand, is to give without expectations, to help where there is a need and to make a difference in whichever way possible,” sluit Zander af.




