NewsNews

Koronavirus-pandemie: ekonomiese impakscenario’s

’n Ontwikkelingsekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) sê vir Suid-Afrika om die huidige koronaviruspandemie te oorleef, moet die huidige staat van inperking ’n sukses wees en die virus moet teen die einde van April onder beheer wees.

Prof Danie Meyer, direkteur van die TRADE-navorsingsfokusarea by die NWU, sê dat dit ook van die uiterste belang is dat toonaangewende lande in Asië en Europa, asook die VSA, hulle stryd teen die virus moet wen en dat ’n entstof in die tweede helfte van 2020 beskikbaar moet wees.

Hy sê dat Suid-Afrika moet hoop dat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank ons te hulp sal kom met ’n baie groot reddingsaksie om die staatskuld te verlig. Strukturele veranderings wat vereis word, kan veranderings aan die gesondheidstelsel, ’n kleiner afhanklikheid van China vir handel, en ’n nuwe strategie vir ekonomiese ontwikkeling insluit.

Die impak van ’n onvoorsiene staat van inperking

Hy sê dat die pandemie soos ’n volskaalse oorlog is – ’n gesondheidsoorlog wat soortgelyk is aan dié wat teen die Spaanse griep van 1918 gevoer is. “Die impak van hierdie pandemie is heeltemal anders as die finansiële krisisse van 2008/2009, en dit is baie erger.”

Virus skep onsekerheid

Hy verduidelik dat al die komponente van die lewe soos ons dit ken, geraak word. Dit strek van sosiale byeenkomste tot sport, godsdiens, en so meer. “Die ekonomiese impak is klaar geweldig, en al die ekonomiese sektore word geraak. ’n Wêreldwye resessie is feitlik ’n sekerheid.

Hy sê dat ons in Suid-Afrika alreeds in ’n resessie was voordat die pandemie die ekonomie op 25 Maart in ’n algehele staat van inperking ingedwing het. “Die werkloosheidskoers kan vanaf die huidige koers van 30% tot by die 50% styg. In die VSA het die situasie van volle indiensneming in Februarie 2020 tot meer as 3 miljoen aansoekers vir werkloosheidsversekering versleg. Hierdie getal het binne ’n week tot 6 miljoen verdubbel.”

Prof Meyer glo dat die resessie in Suid-Afrika feitlik sekerlik tot ’n depressie opgegradeer sal word, met ’n inkrimping van die BBP van tussen 5 en 10% vir 2020 vergeleke met dié van 2019. “Data oor die impak van Covid-19 op die Suid-Afrikaanse ekonomie is dat die motorvoertuighandel in Maart 2020 met 30% gedaal het, en dat uitvoere met 17,5% afgeneem het.”

Hy beklemtoon dat die regering ook onder geweldige druk is met dié dat Moody’s ons tot rommelbeleggingstatus afgradeer het. Terugbetaling van staatskuld het as gevolg van die afgradering geëskaleer, en met minder belastinginkomste uit BTW en brandstofheffings en persoonlike belasting, sê hy sal die regering nie hulle skuld kan terugbetaal en hulle yslike salarisrekening kan betaal nie as die proses te lank aanhou nie.

“Die regering, met ondersteuning van die privaat sektor, het planne in plek om die armes te ondersteun, en is besig om klein besighede met belastingverligting, toelaes, ensovoorts te help. Die befondsing hiervan behoort 5 tot 10% van die BBP te behels, maar die Begroting maak nie vir hierdie omvang van hulp voorsiening nie.”

Prof Meyer sê Suid-Afrika staar die volgende scenario’s in die gesig:

  • Beste scenario (pandemie is onder beheer wanneer die staat van inperking op 16 April eindig): Alles keer op 17 April terug na normaal, met skole en universiteite wat heropen, alle werkers wat terugkeer en besigheid wat hervat word.

Die meeste van ons vernaamste handelsvennote is steeds in ’n staat van inperking, hoewel internasionale vraglewering plaasvind. Plaaslike sakeondernemings kan ten minste op plaaslike vlak handel dryf. Besighede en die bedryf kan met “koop plaaslik”-veldtogte in plaaslike behoeftes voorsien.

Die eerste sowel as die tweede kwartaal sal negatiewe groei toon, met ander woorde ’n diep resessie, met werkloosheid wat bó die 30%-kerf styg en met ’n klompie besighede wat toemaak.

  • ’n Gematigde scenario (pandemie eers teen die middel van 2020 onder beheer):

Die staat van inperking strek tot in Mei 2020 en die samelewing en besighede is eers vanaf Junie 2020 vir almal oop.

Wêreldwyd is die pandemie nog nie verby nie, maar onder beheer. Geen internasionale reise nie, maar vraglewering is aan die gang. Teen daardie tyd het die resessie in Suid-Afrika tot in die derde kwartaal gevorder.

Werkloosheid het tot 40% gestyg, met talle marginale sakeondernemings wat toemaak. Die regering sukkel om al sy verpligtinge na te kom en vra hulp van IMF.

  • Die swakste scenario (pandemie eers teen die einde van 2020 onder beheer):

Die virus is ná ’n tweede staat van inperking in Suid-Afrika nog nie onder beheer nie en sake keer eers teen die einde van die jaar na normaal terug. Internasionale reise hervat eers aan die begin van 2021.

Die Suid-Afrikaanse resessie is nou ’n diep depressie en die akademiese jaar van die skole en universiteite is moontlik verlore.

Die regering sukkel om sy skuldverpligtinge en salarisbetalings na te kom. Die IMF verskaf ’n reddingsboei met voorwaardes wat aan strukturele veranderings, insluitende die vermindering van die regering se loonrekening, gekoppel word.

Werkloosheid is teen die einde van 2020 meer as 45%, en groot getalle sakeondernemings het toegemaak.

Vir meer inligting, kontak vir prof Danie Meyer by 082 850 5656 of daniel.meyer@nwu.ac.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button