Local newsNewsNews

‘Dit is belangrik om memorable te wees’

Annette Willemse is die skrywer van LIEWE PERSOON – hierdie berig is op ‘n ligter noot geskryf en sal lesers so biejtie ontvlugting van al die huidige en negatiewe gebeure bied.

Liewe Persoon

En daar gebeur dit weer: die spulletjie vergeet van my!

Die eerste keer toe dit gebeur het was by die ortodontis in Sasolburg. Ek laat my yster-en-spoor smile (met heldergroen rekkies) verstel…daar gekom neem ek stemmig my plek in en die groot wag begin. Nadat ek daardie voosgeblaaide Huisgenoot – met Vinnnige Fanie op die voorblad -vir die soveelste keer deurgeblaai het, toe tref dit my: die boortjies is stil en die twaalf ander yster-en-spoor slagoffers is weg! Dis net ek. Hulle het van my vergeet! Ek los toe maar vir Fanie en gaan meld aan – en jou wraggies, die spannetjie was al besig om die petty cash te tel!!

Die tweede keer was in matriek – en van alle dae die dag wat die eindresultate in die Volksblad gepubliseer word. Jy sien, ek en die Juffrou het – met die uitsondering van die laaste nommer- presies dieselfde ID-nommer. So ook dieselfde voorletters. So ook (op daardie stadium) dieselfde adres. En raai wat? Daar verskyn net een Willemse in die koerant. My arme ma het amper ‘n floute gehad, om nie eens van my en die Juffrou te praat nie! Een was genadiglik deur…maar watter een?! Lang (emosionele en erg traumatiese) storie kort: ons is albei matriek deur. Drukkersduiwel. Geen verdere kommentaar, behalwe dat ek vermoed dat dit hierdie trauma was wat my so oud-voor-my-tyd gemaak het!

En nou vandag, half agt, laai ek vir Vlam by die handelaar af vir n diens. Teen eenuur kry ek ‘n sms dat sy nou gewas word…teen vieruur raak ek benoud, want sy was eintlik net ‘n bietjie stowwerig, en hulle kan onmoontlik nie vir drie ure skrop nie. Ek bel. “Ooooo, gats! Die karretjie is lank reeds klaar. En so terloops: ons maak halfvyf toe!”

Ek kan baie dinge vat, Liewe Persoon, maar ignoration is my dood. Dit is hoekom ek memorable moet wees…want anders gaan ek wraggies alleen agter bly!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button