Elke liedjie gaan lê rustig op die oor, maar broei in die hart. Sy vertolking van Peter Sarstedt se Where do you go to my lovely, maak ‘n verlange los na mense en plekke wat lankal verdwyn het.
Dan is daar die hartboodskappe uit sy eie pen van Ghost Train tot by Liberty, Bella-Lisa en Imaginative Freedom. Dis ‘n mengsel van Engels en Afrikaans, nuwe liedjies en ou gunstelinge soos Eva en Bessie wat jou meevoer en vir ‘n wyle toelaat dat jou hart jou verstand oorheers. Elk lied verklap ‘n stukkie van die sanger se menswees. Pura Vida beteken ‘n lewe van eenvoud en dit is die boodskap wat André Swiegers met sy nuwe CD wil deurgee.
Om na hierdie musiek op ‘n drafstap te luister gaan nie werk nie. Maak tyd om te ontspan en druk dan play… Drink die musiek in. Hoor die woorde met jou hart. Pura Vida is pure sielskos. Die album is in Februarie bekendgestel en is aanlyn beskikbaar.



