
Die Koepel is baie groen en mooi die jaar na ‘n rekord reënval seisoen. Die naweek van 13 tot 15 Maart is opsygesit vir die geleentheid. Daar het ‘n gesellige atmosfeer tussen die 21 lede geheers waar hullle in netjiese Safarie tente versprei onder die doringbome tuisgegaan het. In die aande is daar by die gemeenskaplike lapa gebraai en gekuier.
Twhane het verskeie wandelpaaie en Saterdagoggend het die klublede van vroeg af in groepies verdeel om die voëls te gaan soek. Dit was bietjie moeilik om die amptelike voetpaadjies op te spoor, maar hulle het sommer so tussen die Proteabosse met Suikerbekkies gestap.

Thwane is geleë op ‘n werkende plaas, so daar is beeste, maar ook verskeie soorte wildsbokke. ‘n Hoogtepunt was die Visarende wat gedurende middagete bo die kamp gedraai het. Dit is ook altyd opwindend om ‘n troepie Withelmlaksmanne te sien en drie na vier spesies Suikerbekkies.
Laat middag is daar weer gestap tussen die pragtige heuwels, voëls gekyk en gesels. So tussen die groot gesels het hulle meer as 69 voëlspesies gesien of gehoor die naweek. Die kameras het ook oortyd gewerk. Selfs die klub se insekfotograaf het heerlik foto’s geneem, aangesien die insekte bedrywig was omdat dit vroeër baie gereën het.
Die Vaal Voëlklub se lede is dit eens dat hul baie bly was hulle het gegaan. Op daardie stadium het niemand geweet dat hul minder as twee weke later ingeperk sou word nie. Hul woordvoerder, Rinda de Klerk het gesê: “Ons het gelukkig nou mooi herinneringe aan die naweek. Ons sal beslis weer gaan sodra die verpligte tuisbly verby is. Tot dan hou ons maar die voëltjies dop wat in ons tuine besoek aflê.”



