VANDERBIJLPARK. – Ons is beperk tot ons huise, behalwe om die nodigste aankope te gaan doen. Kyk mens so na die inskrywings op sosiale media wil dit lyk asof meer mense hulle nou tot kos en lekkergoed wend om die dae om te kry. Boonop mag niemand tans gaan gym, draf of fietsry nie… Die kans is groot dat jy nou meer tye op die rusbank voor die TV deurbring. Ons verstaan die oproep om tuis te bly, maar wat van die oproep om gesond te wees? Dit sluit tog oefening in.

Vaalweekblad het by biokinetikus, Michael Redelinghuys gehoor wat ons nou te doen staan. Hy het die volgende wenke gegee:
Alvorens jy enige aktiwiteite begin moet jy eers jou gesondheidsrisikos ken. Dus moenie vir 30 min op die plek gaan probeer spring of hardloop as jy hoë bloeddruk of swak knieë het nie!
Wees altyd realisties. Moenie iets probeer doen sommer net omdat jy dit op Google gesien het nie. Gewoonlik is die mense wat op die internet oefeninge demonstreer professionele fiksheidsmodelle en dus in staat om enige oefening maklik te laat lyk…
Stel vir jouself doelwitte. Vertel mense daarvan sodat hulle jou gemotiveerd kan hou. Bepaal jou grootste probleem area, maar moenie ander areas afskeep nie.
Indien enige van die bogenoemde nie haalbaar is nie, is dit n goeie idee om te wag tot na die inperkingstydperk en dan ‘n biokinetikus te sien wat op ‘n 4-6 weke-basis nuwe programme vir jou as individu kan uitwerk.
Michael het ook vyf oefeninge gegee wat jy hierdie week tuis kan probeer, sonder enige apparaat. Kry sommer die hele gesin om dit saam te doen. Is jy gereed? Ons begin by die ABC…
1. Alfabet skryf met n reguit been. Sit op ‘n bankie en maak seker die rug is mooi stabiel en het genoeg ondersteuning. Tel 1 been reguit op en skryf met die hak n volle alfabet. Herhaar 2-3 maal per been.
2. Skadu boks (Shadow boxing). Staan in n boks posisie (dink Rocky Balboa voor ‘n groot geveg). Linkervoet voor en linkerarm voor. Slaan dan kort houe met die linkerhand en een groot hou met die regterhand. Dus – links, links en dan regs. Herhaal 20 maal. Na die stel ruil bene en begin nou met jou regterarm. Dus – twee kort houe regs en een groot hou links. Herhaal 20 maal op die arm. (Maak seker jy het genoeg spasie. Nou is nie ‘n goeie tyd om jou hand in ‘n muur vas te slaan of om ‘n huismaat ‘n blouoog te gee nie).
3. Skopboks (Kickboxing). Bring die Jean-Claude van Damme in jou na vore. Staan op een been met jou been effens gebuig. Skop kant toe met die hak en nie n skop beweging soos die met n bal nie. Herhaal 10-20 keer. Ruil kante en doen dieselfde met die ander been. Onthou om vas te hou aan ‘n stewige stoel (Ja, ek weet in die moevies hou hulle aan niks vas nie, maar hierdie is nie Hollywood nie…). Die doel is om so lank as moontlik tyd te spandeer op n been en skoppe te simuleer. Moet nooit die been heeltemal reguit maak nie (los dit liewer vir Jackie Chan of Chuck Norris). Moenie jou knieë sluit as jy oefen nie. Hou jou bene altyd effens gebuig. Moenie te hoog probeer skop nie, die doeltreffendheid word waargeneem deur herhaaldelike skoppe uit te voer en nie hoe hoog jy kan opskop nie.
4. Muurhurk (Wall squat). Staan met jou rug teen die muur en sak af met die knieë nooit meer as 90 grade gebuig nie. Moenie te ver afsak nie want jy moet jouself weer kan opstoot. Hierdie ‘n gly beweging en herhaling is baie belangrik.
5. Woestyngogga. Staan hande viervoet en balanseer op die oorkruisende hand en knie. Die ander arm en been word opgetel en so ver as moontlik na voor en agter uit gestrek. Hou en laat sak. Ruil om. Herhaal die oefening vir ten minste 5 minute.
Probeer om elke dag so 30 minute tyd te maak vir oefening, al gaan stap jy net in jou tuin. Jy kan natuurlik ook lekker mars musiek opsit en op die plek of deur jou huis marsjeer… Dis nou nie asof die bure mag kom kyk wat jy aanvang in hierdie tyd nie… Bowenal #BlyGesond #BlyVeilig #BlyTuis #BlyinBeweging



