Midvaal Brandweer vol beman en paraat
MEYERTON. - Tussen al die drama van die Covid-19 pandemie wat die land tans lam lê, is dit goed om te weet dat die Midvaal Brandweer soos normaal funksioneer.
Daar is vier skofte was vol beman word (tussen 10 en 12 lede per skof). Daar is wel veiligheidmaatreëls ingestel wat gevolg moet word. Voor elke skof word elkeen se temperatuur geneem, asook na afloop van die skof.
“Daar word rekord van alles gehou. Ons vat higiëne baie ernstig op, binne en buite die brandweerstasie. Die hele plek word daagliks twee keer ontsmet,” vertel die woordvoerder van die stasie.
Dit is ook goeie nuus om te hoor dat daar tans min oproepe na ongelukstonele of brande is. Dit dra daartoe by dat die spanne met minder mense in aanraking kom.
“Die probleem is as ons klaar gewerk en huis toe kan gaan. Ons is bang ons kry die virus op ‘n manier by die werk en vat dit na ons families toe. So voor ons by ons huise ingaan, trek ons ons werksklere uit en gaan vat dan dadelik ‘n stort voordat ons met enige van ons gesin kontak maak,” verduidelik die woordvoerder.
Wat ‘n goeie voorbeeld van dissipline en higiëne is dit nie!
- Vaalweekblad bedank Midvaal Brandweer en ander plaaslike nooddienste vir jul toegewydheid en opofferings tydens hierdie tyd.



