Nie eers polio kon hom vaspen nie
VANDERBIJLPARK. – Min stoeiers kan daarop roem dat hulle nog nooit vasgepen was nie. Die 65-jarige Vaaldriehoeker, Johan van Zyl, kan dié prestasie wel agter sy naam skryf. Wat dié prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy in 700 gevegte, slegs in 25 aan die verloorkant was. Dié nederlae was let wel met punte. …
VANDERBIJLPARK. – Min stoeiers kan daarop roem dat hulle nog nooit vasgepen was nie.
Die 65-jarige Vaaldriehoeker, Johan van Zyl, kan dié prestasie wel agter sy naam skryf. Wat dié prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy in 700 gevegte, slegs in 25 aan die verloorkant was. Dié nederlae was let wel met punte. Niemand kon hom ooit in sy loopbaan van 26 jaar op die stoeimat vaspen nie.
“Ek was die enigste stoeier wat nog nooit tydens ‘n geveg op die stoeimat vasgepen is nie,” sê hy trots.

Maar waar het alles begin?
“In 1963 het ek na ‘n lang siekbed met polio begin stoei. Die dokter het voorgestel dat ek ‘n sport moet beoefen om my kragte te herwin. My pa het my na die Vaal-stoeiklub geneem om te kyk of ek sou belangstel,” vertel Johan.
Weens sy natuurlike balans, spoed, vlugvoetigheid en uithouvermoë het hy vining opgang gemaak. In 1972, op 18-jarige ouderdom, het hy sy Springbokkleure verwerf nadat hy die gesoute Springbok-stoeier, Koos O’Kelly, in die eindstryd vasgepen het.
Dit was die eerste van vele mylpale wat hy in sy kleurryke loopbaan sou behaal. In sy loopbaan wat amper drie dekades gestrek het, is hy 25 keer as SA-kampioen gekroon. Hy het 20 keer sy Springbokkleure verwerf en is agt keer as die Springbokkaptein aangewys. Hy het Suid-Afrika van 1972 tot 1987 teen die VSA, Wes-Duitsland, Switserland, China, Europa, Griekeland, België, Turkey en Japan verteenwoordig.
Hy was ook genooi om in Duitsland deel te neem om vir die wêreldkampioenskap in 1977 in Switserland te kwalifiseer, maar hy moes die gulde geleentheid weens familieverpligtinge van die hand wys.
Wanneer hy terugkyk op sy roemryke stoeiloopbaan, is daar ‘n handjievol gevegte wat hom altyd sal bybly.
“Daar is ‘n paar wat vir my uitstaan, maar my geveg teen ‘n Amerikaanse wêreldkampioen wat ek in 1982 met punte verslaan het, sal ek altyd onthou, asook ‘n geveg in 1977 teen ‘n polisie-stoeier wat my voor die geveg gewaarsku het dat wanneer hy met my klaar is, sal ek een jaar minder SA-kampioen wees. Die geveg het slegs sewe sekondes geduur voordat ek hom vasgepen het. Dit was was my vinnigste vaspen in my stoeiloopbaan,” vertel Johan breëbors.
Op 37-jarige ouderdom het hy sy stoeistewels opgehang nadat hy al sy doelwitte bereik en mylpale behaal het. Deesdae sal jy hom op die gholfbaan vind waar hy sy ander passie beoefen.

*Johan is onlangs in die Vaal Sportmuseum ingelyf. Die museum beoog om eersdaags by die DP de Villiers-stadion in Sasolburg sy deure te open en spog reeds met 305 Proteas sportmanne en -vroue van die Vaaldriehoek wie se prestasies en memorabilia in die museum uitgestal sal word. Die museum wat deur Theuns Erasmus en Piet Brand begin is, maak uitsluitlik op skenkings en borgskappe staat. Vir skenkings of meer inligting oor die Vaal Sportmuseum, kontak Piet by 083 626 8888.



