
Nie net het hy ‘n sneeubelaaide Kersfees gehad nie, hy het ook sy 16de verjaarsdag op 17 Februarie in Alaska gevier.
Vier maande later en Harco geniet dit in die verre vreemde ten spyte van die koue en die Koronavirus pandemie se beperkings. Voordat die beperkings ingetree het, was hy deel van die plaaslike skool waar hulle elke dag van 08:00 tot 14:00 skoolgegaan het. Sy vakke het meetkunde (wat Geometrie genoem word), Amerikaanse Geskiedenis, Engels, Media en Uitsaaiwese, Gym en Process Technology ingesluit.
Die skole het intussen gesluit en klasse gaan nou as e-skool voort. In ’n elektroniese onderhoud het Harco gesê: “Ons gebruik aanlyn platforms soos Google classroom en Zoom wat ons toegang gee tot ’n interaktiewe virtuele klaskamer. Ons volg ons gewone klasrooster, maar in plaas van klasse wissel, word daar nou Zoom meetings gewissel.” Hulle kry ook weekliks opdragte en take wat voltooi moet word. Skooltyd begin darem nou eers 09:00 en Harco sê hy kan sommer in sy pajamas voor die rekenaar sit.

Winters in Alaska is baie koud so die inwoners verkies om dit binneshuis deur te bring. Die Korona voorsorgmaatreëls het daarom nie werklik so ’n groot verskil in hul doen en late te weeg gebring nie, behalwe dat hy nie meer met sy vriende by die skool kan kuier nie.
Op die oomblik het Alaska die minste gevalle van Covid-19 van al die state in die VSA. Harco sê die winkels het dieselfde beperkings as in SA en daar is merkers op die vloere geplak om mense te help om sosiale afstand te behou. Meeste mense werk ook van die huis af.
Voor die pandemie het hy kans gehad om van Alaska se wintersportsoorte te leer soos snowboarding, ski, ysskaats en binnehuise byl gooi!
Al is hul aktiwiteite nou beperk kry hy steeds daagliks oefening in as hy die sneeu in die oprit na die huis moet skoon skraap. “Dis die aktiwiteit waarvan ek die minste hou en tog die meeste doen” bieg hy.
Harco reken die Alaskiërs en Suid-Afrikaners verskil nie so baie van mekaar nie. Die Alaskiërs is baie vriendelik en behulpsaam. Net soos ons geniet hulle ook ’n braai, maar in plaas van ’n skaaptjoppie het hulle vis, Moose en takbok op die kole. Dit word ook ’n BBQ genoem. Kamp, jag en visvang is gunsteling tydverdrywe.
In Alaska het almal dieselfde motto, veral as dit kom by die groot feeste en vakansiedae soos Kersfees, Paasfees en verjaarsdae, dis “go big or go home!” Die winter is baie kouer as in Suid-Afrika met temprature van -15˚C. Die son skyn ook nie regtig nie. Dit is of donker of skemer. In die somer sak die son amper nooit nie. Die dae wissel tussen helder sonskyn en skemer met warmer temperature van so 20˚C.
“My tas was nog nie eers behoorlik uitgepak nie, toe word ek genooi om hier rugby te speel. Die klub bestaan omtrent net uit Suid-Afrikaaners. Hulle het twee spanne plus reserves (dit sluit hul sewe rugbyspan in). Ongelukkig is dit nou winter, maar hopelik kan ek saam speel in die somer maande.”
Harco gaan vir eers in Alaska bly. Hy sê sy Rotary klubs in Alaska en in Suid Afrika het saam met sy ouers besluit dat dit op die oomblik veiliger is. “Om nou op lughawens rond te beweeg en lang ure op verkeie vlugte te spandeer stel my bloot aan groter risiko’s om die virus op te tel. Maar, as ek een ding geleer het, is dit dat niks finaal is nie en dat die omstandighede altyd kan verander.
Weens die Covid-19 pandemie is hy baie gereeld in kontak met sy vriende en familie in Suid Afrika. Hulle bly veilig in hulle huise en is perdfris en gesond, net ’n bietjie gefrustreerd en verveeld. “My boodskap aan my familie en vriende is dieselfde as wat ek vir die res van die Vaal wil gee – bly asb tuis en moenie fake news glo of versprei nie!”



