NewsNews

Rotariërs deel kos uit.  Help waar hul kan

Die Rotary Klub van Vanderbijlpark was baie doenig die week om kospakkies uit te deel nadat hulle donasies van Alco Beton, Blue Ribbon en van die klub self ontvang het. Die donasies het 600 brode, 420 kg mieliemeel, aartappels en uie ingesluit.

Klubpresident, Jackie van Waveren het die nodige permitte gereël en voorsorgmaatreëls getref sodat hulle die aflewerings kon doen. In twee dae het die ywerige span ongeveer 860 mense gehelp. Van die plekke waar aflewerings gedoen is was die Emfuleni Boy Shelter, Matwala’s Children’s Home, Maria Magdalena Home, Jabes Foundation, House Annetjie, die Emfuleni Lochvaal Shelter, die YHWH Rehabilitation Centre en die Zebulun Lifestyle and Development Centre waar daar tans 50 haweloses van Vanderbijlpark en Vereeniging gehuisves word.

Mense wag in die ry vir kos by die Zebulun Lifestyle and Development Centre.

Hulle kon ook 69 bejaardes in die Pioneer House met kospakkies help.  Jackie sê oral waar hul gekom het was die nood regtig groot, nie net vir kos nie, maar ook vir klere en skoene. “Ons benodig ook dringend leë twee liter bottels en roomysbakke.” Indien jy enige iets het om te skenk, al is dit net ‘n paar blikkies kos of pakkies sop, kontak haar by 084 326 5228.

“Ons gaan aanhou met hierdie projek tot lank nadat die lockdown verby is. Ons sal moet. Die winter lê nog voor…” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button