NewsNews

Die melkbottel loop oor…

Dis al geruime tyd wat ons aan krimpflasie onderwerp word. So stil-stil het baie produkte kleiner en minder geword en die pryse hoër. Die stories oor die hoeveelheid lug teenoor die massa skyfies in ‘n pak is ook legio.

Produkte van 200ml is nou 180 ml, 100g het 80g geword… En so voort en dies meer. Maar, daar is uitsonderings… Vanoggend draai ek weer ‘n bottel langlewe melk oop en, soos elke ander een, is dit letterlik propvol melk. Kos ook nie heeltemal die spreekwoordelike arm en ‘n been nie.

Die bottels het afdraai proppe, en onder die proppe is daar ‘n silwer seëltjie. Om die seëltjie af te kry is nogals ‘n kuns, want die stukkie vir vat en trek ontbreek baie maal. Jy werk dit versigtig af, want die bottel is vol. En mens is bly oor die vol, veral in vandag se tye met die grendelstaat toestand en die net so nou en dan se mag winkel toe gaan. Mors kan mens nou nie mors nie.

Geduld is hier die wagwoord, want dit vat vernuf om die eerste melk oor die pap of in die beker koffie te kry.  Elkeen in die huis het al hul eie manier ontwikkel. Persoonlik probeer ek om nie die eerste een te wees om melk uit ‘n vol bottel te skink nie, maar as dit nou moet, dan help dit om die bottel so half skuins te hou en die bord pap maar bietjie op te tel. Belangrik om nie op hierdie stadium te bewe of te begin lag nie. Dit kan melkmors tot gevolg hê en soos die Engelse sê “there is no use crying over spilled milk”.  Maar mens voel tog aardig as so ‘n kosbaarheid nou as ‘n blerts op die tafel lê. Moet seker bly wees as dit net ‘n blertsie is en nie ‘n hele bottel wat met die vloer kennis maak nie…

Iedergeval, dit was toe ek nou vanoggend weer so ‘n slag mik-mik met die vol bottel melk na die bord pap toe, wat ek skielik dink aan hoe baie mense betrokke was in die voedselketting alvorens ek nou die melk kon oopmaak.  Vir al dié mense, van die boere en die trokdrywers tot by die winkelbestuurders en die pakkers en kassiere wat werk sodat die res van ons in die veiligheid van ons huise koffie met melk kan drink… baie, baie dankie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button