Wegkom van die situasie kan ons nie, die Koronavirus is in elke nuusberig, op elke sosiale media platform, dis die spilpunt van gesprekke en dit lê in mense se oë wat oor tuisgemaakte maskers woordeloos na mekaar staar in winkels…
Alhoewel almal se lewens geraak word, hanteer almal nie die situasie op dieselfde manier nie. Op verskeie sosiale media platforms duik daar videos op van mense wat braaf rou eiers uit shooter glasies drink… Maar hoekom? Die vraag het ook nie ‘n sinvolle antwoord nie.

Dan is daar die mense wat hul tot humor wend. Grappies loop soos stroop op die oomblik en die internet wemel van humoristiese video’s en memes. Daar is ook die wat voel hierdie situasie verdien nie eens ‘n glimlag nie en eerder ernstig die statistieke bestudeer.
Kwasi-spioene voor vensters is daar nou baie. Mense wat hul tyd verwyl om die motors en mense in die straat te tel en boek te hou van hoeveel maal hul bure al die week gaan brood koop het. So het elkeen maar ‘n manier om deur die tyd te kom en hulself besig te hou. Of jy nou daaroor lag of huil, jou tot gebed wend of nie, jou dae met niksdoen of baie werk in die huis of tuin spandeer, dit maak nie saak nie. Belangrikste is dat jy by die reëls hou.
Maar, wat as jy regtig nie weet hoe om die situasie te hanteer nie? Wat as jy paniekaanvalle kry? As die depressiemonster aan jou hakskene byt? Kenners sê probeer by ‘n roetine hou. Slaap genoeg. Eet gesond. Kry een of ander vorm van fisiese oefening in. Lees. Luister musiek waarvan jy hou. Bel vriende of familie en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. Wees genadig met jouself. Mediteer.
Onthou, daar is hulp beskikbaar, selfs in hierdie inperkingstyd. Die Departement van Gesondheid het verskeie nommers beskikbaar gestel wat jy kan bel as jy nie meer weet watter kant toe nie. Besoek ook www.sadag.org vir aanlyn hulp, artikels en meer inligting oor onder andere depressie, angs en bipolêre gemoedsversteuring. Hulle het ook daagliks tussen 13:00 en 14:00 facebook vrae en antwoordsessies waar kenners vrae beantwoord. Gaan na https://www.facebook.com/TheSADAG/ vir meer inligting.



