Local newsNewsNews

Hoe lyk dit met ‘n skyf en ‘n cold drink?

Moeg vir al die negatiewe dinge wat aan die gang is. Lees gerus dié skrywe wat in ligte luim, lekker tong-in-die-kies deur Annette Willemse “opgedis” is. Lekker lees en lag ‘n slag!

Schalkie het nie n tand in sy mond nie. En ook nie n haar op sy kop nie. As jy hom so van ‘n afstand bekyk trek hy nogal verstommend baie na Popey – veral as hy sy ken so optrek en sy onderlip feitlik tot onder sy neus trek.

Hy het nie ‘n Olive aan sy arm nie, maar wel ‘n kardoessakkie vol medisyne en ‘n bloukaart met sy maandelike voorskrif daarop gedruk. Hy dra ‘n groot silver horlosie en ‘n ou Nokia in ‘n geel selfoonkous om sy nek. Hy wag dat die tehuis se bussie hom kom oplaai.

My oog vang sy kouse – sulke pers-en-wit-gestreepte bedsokkies van Pick n Pay. Hy is al aan die verkeerde kant van 60. Hy lag oopmond vir almal in die oorvol wagkamer van die kliniek en stel homself aan almal voor. Party groet vriendelik terug, een tannie hou haar handsak stywer vas en ‘n paar mense hou hul oë gefokus op hul selfoonskerms.

Terwyl ek wag vir ‘n beurt om een van die administrateurs te sien, vang Schalkie se oog my pa; waar hy in die kar – reg voor die deur na die kantoor, vir my wag. En met ‘n waggel in sy stap is hy uit by die deur en reguit na my pa.

Nou almal wat al met die Staat te doene gehad het, weet dat jy nie sommer jou plek in ‘n ry verlaat nie…so pa was op sy eie. Na wat soos n ewigheid gevoel het, is Schalkie terug. Nou sit hy langs my…hy flits daardie hemelbreë glimlag en gums vir my en sê: “Sjym, die oom in daardie ‘motour kar’ is verlam – sy bene is net kapoet! Hy het sy eie rystoel daar in die boot“.

Ek skud my kop, en voor ek iets kan sê, sê Schalkie: “Die oom rook nie, maar hoe lyk dit – het jy vir my ‘n skyf of ‘n cold drink?”

En daar tref dit my – ons word ontvang in die wêreld as onskuldige kindertjies en soos die jare verby vlieg word sommige van ons weer kinderlik in ons wese. Schalkie is só ‘n “kind” vasgevang in die wip van ouderdom.  Onskuldig.

En sowaar gelukkiger as ek en jy met al ons goeters en besittings , en ons bekommernisse en frustrasies. Die Here sê ons moet glo en vertrou soos ‘n kind…en ek weet voor die son vanaand gesak het, het Schalkie ‘n skyf én ‘n cold drink gekry.

Hy is gelukkig. Hy het vrede…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button