Pastoor sê polisie ‘teister’ hom by rehabilitasiesentrum
DE DEUR. – Die eienaar van ’n geloofsgebasseerde rehabilitasiesentrum vir mense met dwelmverslawing sê hy sal nie rus tot die stasiekommissaris van die polisie in De Deur afgedank word, vanself bedank, of “na ’n polisiestasie in die Kalahari-woestyn verplaas word nie”. ’n Erg ontstoke past. Dave Barber van die Walking With Winners-rehabilitasiesentrum in De Deur, …
DE DEUR. – Die eienaar van ’n geloofsgebasseerde rehabilitasiesentrum vir mense met dwelmverslawing sê hy sal nie rus tot die stasiekommissaris van die polisie in De Deur afgedank word, vanself bedank, of “na ’n polisiestasie in die Kalahari-woestyn verplaas word nie”.
’n Erg ontstoke past. Dave Barber van die Walking With Winners-rehabilitasiesentrum in De Deur, gee in ’n Facebook-video te kenne gegee dat hy stappe teen die Suid-Afrikaanse polisie gaan neem.
Dit volg nadat polisiemanne hom en ’n pasiënt by die rehabilitasiesentrum verledeweek glo hardhandig hanteer het toe Barber die polisie toegang geweier het.
Vaalweekblad verstaan die polisie het op Woensdag 15 April by die rehabilitasiesentrum aangeklop om vas te stel of Barber aan regulasies wat met die landwye staat van inperking verband hou gehoor gee.
Volgens Barber was daar twee polisievoertuie en 10 polisiemanne wat by sy perseel opgedaag het.
Volgens Barber kon die polisie nie dokumentasie aan hom toon of ’n geldige rede vir hul besoek verstrek nie.
“Ons is ’n rehabilitasiesentrum wat by die department van maatskaplike ontwikkeling gerigestreer is. Wie is julle om die perseel te betree? Daar is mense hier wat deur dinge gegaan het met die polisie. Ons het mense hier wat kriminele klagtes beveg. Daar is mense met allerhande dinge worstel op ’n geestelike en emosionele vlak. Ons eenvoudig nie tien polisiemanne op die perseel hê wat mense bevraagteken en lukraak ondervra op die perseel nie,” sê Barber in die video.
Volgens Barber het die polisie die rehabilitasie sentrum verlaat maar die volgende dag met vier polisiewaens en beamptes van die departement van maatskaplike ontwikkeling teruggekeer.
Tydens dié tweede geleentheid op 16 April het die vonke blykbaar gespat toe Barber geweier het dat die polisie die perseel betree, alvorens hulle kan bewys dat hulle nie met Covid-19 besmet is nie.
Barber sê sy woorde was skaars koud toe twee polisiemanne hom bestorm het.
“Hulle het hul vingers in my gesig gedruk en gesê hulle sál die perseel betree en dat ek hulle nie sal keer nie.
“Hulle het geweldadig geraak en my en drie van my mense rondgestamp,” vertel hy in die video.
Volgens Barber het die polisie een van sy pasiënte aangerand en sy foon by hom afgeneem toe die pasiënt die voorval afgeneem het.
Volgens Barber gaan hy die polisie aanvat oor hul optrede.
Hy het by navraag gesê dat hy deur sy prokureur opdrag gegee is om nie kommentaar te lewer nie aangesien daar regsprosesse aan die gang is.
Barber het wel benadruk dat hy by elke woord in sy video staan.
Navrae is aan adjudant-offisier Tshegofatso Maliehe, woordvoerder van die polisie in De Deur, gerig maar sy het navrae aan brigadier Vish Naidoo van die polisie se hoofkantoor verwys.
Naidoo het nog nie op navrae reageer nie.
Sien volledige video hier:
https://studio.youtube.com/video/yH-L95L9qrw/edit






