Local newsNationalNews

Bonny en nog 182 Suid-Afrikaners “ontsnap” uit Australië se Lockdown

Na weke se inperking "Down Under" land vol vliegtuig vanaand in SA

 

Bonny Immelman, die jong moeder van Drie Riviere, Vereeniging, wat weke lank in Australië moes bly en weens die inperking nie huis toe kon kom nie, het vroeër vanaand uiteindelik in Suid-Afrika aangekom saam met nog 182 reisigers, wat ook weke lank in Australië of Nieu-Seeland vasgekeer was.
Die stampvol Qantas-vlug het omstreeks 17:30 by OR Tambo-lughawe geland.
Bonny het op 13 Maart na Australië vertrek om ‘n kursus van 2 weke by te woon. Net voordat sy sou terugkeer na Suid-Afrika, is ‘n grendelstaat in die land afgekondig en alle lugverkeer is gestaak. Bonny se besoek van 2 weke het verander in ‘n uitgerekte en frustrerende inperking van 6 weke, waar sy alleen in ‘n hotelkamer in Sydney moes bly.
Hoewel Bonny en die ander reisigers nou veilig in SA is, gaan dit nog 14 dae wees voordat hulle weer hul gesinne mag sien. Almal moet vir twee weke in verpligte kwarantyn bly voordat die regering hulle gaan toelaat om na hul onderskeie huise terug te keer.
Dit gaan beslis twee lang weke wees vir Bonny, ‘n weduwee, want die verlange na haar seuntjie, Leslie, is baie groot en hy verlang natuurlik net so baie na sy ma. Leslie is intussen darem in veilige hande by sy oupa en ouma, Dr. Gary en mev. Lorna Immelman van Drie Riviere.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button