News

Bekende sangeres beseer in rooftog

VANDERBIJLPARK. - ‘n Bekende gospel en country sangeres en haar man is verlede week erg aangerand in ‘n gewapende rooftog by hul huis.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende gospel en country sangeres en haar man is verlede week erg aangerand in ‘n gewapende rooftog by hul huis.

Charlie Dicks* (50) en haar man, André du Toit (60), is op Donderdag 7 Januarie omstreeks 10:00 deur drie rowers in hul huis in McOwenstraat oorval.

Volgens André was hy in die badkamer terwyl Charlie oor die telefoon gesels het. Charlie is by die voordeur deur een van die drie rowers verras. Hy het vir haar gewys om stil te bly maar sy het begin gil. Die rower het haar met ‘n houtstomp geslaan.

Intussen het André hom na die sitkamer gehaas en hom teen die ander twee rowers vasgeloop. Een het André teen die oor en die kant van sy kop geslaan. “Ek het terugbaklei en kon daarin slaag om ‘n houtstomp by een van hulle af te neem,” sê André. Die bakleiery het tot in die agtererf gevorder.

Charlie is aanhoudend deur een van die rowers geslaan en sy het besluit om “dood te speel”. Die rower het haar toe gelos en is na buite waar hy vir André van agter oor die kop met ‘n stomp geslaan het. Al drie die rowers het daarna op die vlug geslaan. Niks is in die rooftog gebuit nie. Een van die rowers is ‘n ent daarvandaan deur ’n lid van die publiek vasgetrek en is deur die polisie, wat daar verbygery het, in hegtenis geneem nadat hulle van die inbraak te hore gekom het. Een van die rowers is die broer van die tuinwerker, wat reeds die afgelope twee jaar by die egpaar werk. Al drie is teen druktyd in hegtenis geneem.

Charlie is reeds 30 jaar in die musiekbedryf en het haar debuut destyds in die “Sing country” program gemaak. Sy het ook al op Noot vir Noot en DKNT opgetree. Met suksesvolle programme soos Wat’s jou storie op TV, is Charlie tans aanbieder van die program, Jou paaie se draaie, wat op Kruiskyk uitgesaai word. Sy en haar man, wat ook in die musiekbedryf is, was ook al in die Seychelle -ilande op uitnodiging om daar musiek te maak vir vakansiegangers.

“Ons bedank graag die gemeenskap wat betrokke was en wat nie geskroom het om ons te help nie,” sê die egpaar.

* Verhoognaam

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button