Photo GalleriesSportSportSport

Vaal bedank Morkels vir krieket nalatingskap

Die voetafdruk wat die Morkels op Suid-Afrikaanse en Vaaldriehoekse krieket agtergelaat het, sal nooit verdof nie. Volgens die 70-jarige Albert Morkel, ‘n Alumnus van die Noordwes-Universiteit, sal daar gevind word dat enige Vaaldriehoekse speler wat erens in krieket die afgelope 15 jaar gekom het, een of ander tyd by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark kampus se …

Die voetafdruk wat die Morkels op Suid-Afrikaanse en Vaaldriehoekse krieket agtergelaat het, sal nooit verdof nie.

Volgens die 70-jarige Albert Morkel, ‘n Alumnus van die Noordwes-Universiteit, sal daar gevind word dat enige Vaaldriehoekse speler wat erens in krieket die afgelope 15 jaar gekom het, een of ander tyd by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark kampus se krieketakademie betrokke was.

“Ek en Prof. Piet Prinsloo het in 2002 met die idee vorendag gekom om ‘n krieket akademie by NWU te begin. My seun (Morné) en sy seun (Phillip) het saam vir Vaaldriehoek krieket gespeel en ons het ‘n leemte in talentontwikkeling- en identifisering  raakgesien.”

“As ek dit moet opsom was dit die eerste volwaardige krieketakademie in Suid-Afrika. Dit was ‘n wêreldkas fasiliteit.  Barry Richards (een van Suid-Afrika se suksesvolste kolwers ooit) wat op daardie stadium in Australië gebly het, het een aand by ‘n NWU-krieketfunksie gesê dat daar in Australië nie ‘n fasiliteit van soortgelyke gehalte bestaan nie,” sê Morkel.

“Ons het op ‘n stadium 150 kinders gehad wat by die akademie geoefen het en ons het die Khaya Majola krieketweek onder die vaandel van die krieketakademie op die kampus aangebied,” vertel hy trots.

Hy en sy vrou Mariana (65) is die trotse ouers van die Protea-krieketspelers Morné (34) en Albie (37) Morkel wat onlangs hulle uittrede uit Internasionale krieket aangekondig het. Hulle oudste seun Malan (40) wat waarskynlik die talentvolste van die Morkel-broers was, het weens ‘n herhalende enkelbesering nooit sy geleentheid gekry om sy stempel op senior nasionale vlak af te druk nie.

Malan het drie jaar opeenvolgend die SA-skolespan gehaal en skouers met Protea-spelers soos Mark Boucher geskuur. Hy het in sy matriekjaar saam met die destydse Transvaalse senior span in Australië getoer. Dit was op die einste toer wat hy al sy enkelligamente geskeur het, wat uiteindelik sy belowende krieketloopbaan kortgeknip het.

“Hy was op daardie stadium as die beste snelbouler in Suid-Afrika beskou, maar een besering het sy lewe onherroeplik verander,” vertel sy pa.

Malan het voorts sy volle gewig by die NWU-krieketakademie ingegooi. Volgens sy pa het hy die akademie op die “map” gesit.  Malan is daarna deur die Hoërskool Garsfontein in Pretoria genader om hulle krieketprogram op te knap en te bestuur. Die welslae wat Garsfontein se krieket sedertdien behaal het, spreek vanself. Om bykans van niks tot een van die top 10 krieketskole in die land te vorder verdien ‘n pluimpie.

 

Albert Morkel saam met vrou, kleinkinders, drie seuns en die se eggenote. 

“Jy kan al die talent in die wêreld hê, maar as jy nie geleenthede kry nie beteken dit niks. Goeie besluite speel ook ‘n sleutelrol. Hoe ouers hulle kinders se krieketloopbaan bestuur is baie belangrik. Mens kan nie op die talentidentisering van die bestaande strukture staatmaak om iewers te kom nie,” vertel hy.

“Jy moet die regte klub kies om jou talent te komplimenteer. Ons het Morné by Wanderers krieketklub aangesluit waar hy teen van die beste plaaslike en internasionale krieketspeler gespeel het.”

“Ek dink ons talentidentifisering in Suid-Afrika skiet baie tekort. Morné het nie in graad 11 Gauteng se A, B of C span gehaal nie, maar wel in sy matriekjaar vir Gauteng A gespeel. Hy het by die nasionale kriekweek veldwerk van ‘n reguit dryfhou van AB de Villiers se kolf af sy vinger gebreek, wat die einde van sy deelname aan die week beteken het. Die daaropvolgende jaar is hy nie vir ‘n KSA-oefenkamp gekies nie, aangesien die keurders by die Coke-week en die van die oefenkamp nie dieselfde ouens was nie. Daar was geen kontiniuteit nie,” vertel Albert.

Morné het daarna sy groot kans gekry toe Ray Jennings, voormalige afrigter van die Proteas en Oostelikes, hom gevra het om by Supersportpark as netbouler teen Protea-spelers soos Graeme Smith, Jacques Kallis en Shaun Pollock aan die vooraaand van hulle wedstryd teen Nieu-Seeland op te tree. Hulle was verbaas dat hy slegs vir Oostelikes se amatuerspan gespeel het en hom gevra of hy die volgende dag 12de man vir die Proteas wou wees. Hy het slegs 5 eersterangse wedstryde gespeel, voordat hy sy debuut vir die Proteas gemaak het.

“Ouers moet wyer kyk as hulle eie kinders en weet wat die standaard van byvoobeeld ‘n goeie o.15-speler moet wees. Jy gaan ook nie deur die huidige sisteme iets in krieket bereik, as jy nie deur die Varisty-beker stelsel gaan nie. In die Varsitybeker is daar televisie blootstelling en die ouens identifseer rugby en krieket spelers op daardie vlak” gee hy te kenne.

Morné het Australië toe te geimmigreer en Albie hou himself besig as  kolfkonsultant vir Namibië se nasionale krieketspan. Hy het ook sakebelange in Ultimate Aim ‘n sportkompleks in Montana.

Albie het in graad 11 vir SA-skolespan gespeel, maar is in sy matriekjaar deur Gauteng Krieket geskors nadat hy deur Ray Jennings genader is om vir Oostelikes in ‘n vriendskaplike wedstryd te speel.

“Ons het toestemming by Ali Bacher gehad, maar die Gauteng Raad het ons op pad Johannesburg toe gebel en gesê as Albie vir Oostelikes speel dat hulle hom gaan skors. Ek het vir Albie gesê ons gaan nie omdraai nie. Na sy skorsing het Clive Rice (voormalige Springbok-krieketkaptein) my gebel en gesê dat Albie se skorsing vir hom goeie nuus is. Hy het Albie onmiddelik vir die SA o.19-span gekies wat in Sri Lanka aan die Wêreldbekertoernooi gaan deelneem het. Dit was ‘n keerpunt in sy (Albie) loopbaan.”

Toe hy terugkeer van die Wêreldbekertoernooi het hy 141 lopies vir Oostelikes teen Brian Lara se Wes-Indiese toerspan gemoker. “Brian (Lara) het daarna vir my gesê Albie gaan vir die Proteas speel,” gee Albert te kenne.

Albie het in sy loopbaan wat oor 20 jaar strek vir die Proteas in verskeie formate van die spel gespeel, maar die agt jaar wat hy in die Indiese Premierliga (IPL) gespeel het, het Superster-status aan hom besorg. Hy het saam met die Chennai Super Kings die IPL gewen. Hy hou ook die wêreldrekord as die krieketspeler wat die meeste T20-wedstryde gespeel het.

Hoewel die Morkels deur volgende generasies as ‘n puik krieketfamilie onthou sal word, sal die woorde nederig en gentleman gebruik word om hulle te beskryf. Morné is immers ‘n lewenslange ere-lid van Lords in Engeland en is slegs een van vyf Suid-Afrikaanse boulers wat al daarin kon slag om 300 toetspaaltjies plat te trek.

Die Vaaldriehoek salueer die Morkels vir hul bydrae tot krieket.

Related Articles

 
Back to top button