Manie laat weet ‘fans’ dit gaan beter
VAALPARK. - Die Vaal se geliefde country en minnesanger, Manie Jackson, het vanmiddag sy aanhangers op Facebook gerus gestel met 'n persoonlike boodskap dat dit met hom beter gaan.
Vaalweekblad het vanoggend berig dat Manie verdere behandeling by die huis kry nadat hy gisteraand siek geword en hospitaalbehandeling moes ontvang. Hy kon by die huis aansterk terwyl daar vir uitslae van toetes wat gedoen is, gewag word.
Sy vrou, Christel, het Manie se aanhangers op sy Facebookblad in kennis gestel dat hy nie Covid-19 onder lede het nie. Sy het ook gesê dat Manie nog swak was, en gevra dat mense vir hom bid.
Sy aanhangers sal dus verheug wees oor dié boodskap: “Middag mense….. Wil net laat weet dat ek beter is. Ek het gistraand nog met my vriende gepraat op WhatsApp, onder andere met Ray Dylan, en skielik geen asem gekry nie. My vrou het, op my aandrang, my na die naaste hospitaal toe gevat. Op die stadium lyk dit na akute mantelvliesbreuk, en dit druk teen my longe, wat die benoudheid veroorsaak,”
Hy het ook geskerts en gesê dat hy “okay”sal wees, maar dat dit ween eens ‘n bewys is dat 40 oud is. “I told you so,” het hy afgesluit.



