Bekende oud-onnie sterf op 90
VEREENIGING. – ’n Bekende onderwyseres wat baie leerlinge van Vereeniging leer Engels praat het is op die rype ouderdom van 90 aan natuurlike oorsake oorlede. Denise Kocks, beter onder oud-leerlinge as ‘M’am Kocks’ bekend, sal waarskynlik die beste onthou word as die Engelse onderwyseres by die Hoër Tegniese en Handelskool Vereeniging wat talle Vaaldriehoekers geleer …
VEREENIGING. – ’n Bekende onderwyseres wat baie leerlinge van Vereeniging leer Engels praat het is op die rype ouderdom van 90 aan natuurlike oorsake oorlede.
Denise Kocks, beter onder oud-leerlinge as ‘M’am Kocks’ bekend, sal waarskynlik die beste onthou word as die Engelse onderwyseres by die Hoër Tegniese en Handelskool Vereeniging wat talle Vaaldriehoekers geleer het hoe om ordentlik Engels te praat.
Soos Kocks se dogter, die ontslape Elda de Waal (63), laasjaar tydens ’n onderhoud aan Ster gesê het is daar nét Engels in dié onderwyseres se klas gepraat en niks anders nie.
Sy het twee geslagte (haar eie kinders en hul kinders) sien grootword en was gelukkig genoeg om voor haar dood ook haar agterkleinkinders te ontmoet.
Kocks se dood volg skaars ses maande nadat haar dogter (Elda de Waal) op Vrydag 15 November aan ‘n massiewe hartaanval dood is.
Volgens Kocks seun, Charl Kocks (66) het die 90-jarige die afgelope tyd met longontsteking gesukkel.
“Sy het eers reggekom maar toe het haar toestand skielik versleg. Sy is uiteindelik op Donderdag 30 April omstreeks 22:00 oorlede,” vertel hy.
Hy sê hoewel die familie nie regtig “telling hou” nie is hulle die afgelope twee jaar deur talle sterftes getref: Charl se dogter, Ellen (31), en Elda se man, Johan (62), is albei in 2018 dood en toe is De Waal boonop laat verlede jaar oorlede.
“Terwyl die ander sterftes as ’n groot skok gekom het, het ons almal geweet dat dit een of ander tyd met my ma ook sal gebeur.
“Dit is tog hartseer want dit is die einde van ’n era wat verby is en die einde van ’n geslag,” sê Charl.
Kocks is in 1929 in Pietermaritzburg in Natal gebore en het aan Voortrekkerskool in Pietermaritzburg gematrikuleer.
Sy het haar B.A.-graad in tale aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en later ’n meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde. Sy het gedurende haar leeftyd ook ’n onderwysdiploma verwerf.
Kocks het haar onderwysloopbaan in Livingstone in Zambië begin waar sy aanvanklik Geskiedenis gegee het.
Daarna het sy by die King David School in Victorypark in Johannesburg vir ortodokse Jode klas gegee in Afrikaans en Geskiedenis.
Kocks het later saam met haar man, die predikant Frans Kocks, na Vereeniging getrek en het sedert 1968 tot 1988 – vir twintig jaar lank – Engels vir matrieks gegee by die Hoër Tegniese en Handelskool Vereeniging.
Dit was gedurende hierdie tyd wat sy diep in leerlinge se harte gekruip het.
Frans is al in 2011 oorlede.
Kocks het die afgelope paar jaar in ’n aftree-oord in Drie Riviere gebly.
Sy was baie gewild onder leerlinge en het nog verlede jaar ’n hoërskoolreunie van oud-leerlinge van die Hoër Tegniese en Handelskool Vereeniging bygewoon.





