NewsNews

Is Vanderbijlpark se dokters nog okay?

Die koronavirus en die gepaardgaande grendelstaat reëls en regulasies raak almal. Eintlik is daar seker min mense wat kan sê dat hul net daardeur geráák is, wind uitgeslaan, mat onder die voete uitgeruk en van balans afgegooi sou dit dalk beter beskryf.

Vaalweekblad het een van Vanderbijlpark se algemene praktisyns gekontak om te hoor hoe gaan dit met die dorp se dokters. Is hulle nog okay?

Dr. Ashley Müller, gee dadelik die versekering dat hy en sy kollegas nog gesond is. Dit gaan goed. Sy stem vriendelik soos altyd, maar die stres slaan tog deur. “Die eerste ruk, net na die eerste maatreëls aangekondig is, was erg. Die mense was paniekerig. Toe kom die lockdown en die spreekkamers loop leeg. Ons moes ons ure sny, en van ons personeel afbetaal… Hierdie ding het aan ons almal gevat.” Vir ‘n oomblik is dokter en joernalis stil. Dis die ding met hierdie vreemde tydperk, dit laat jou plek-plek stom.

LEES OOK: 7 Mei: SA Covid-19 gevalle staan op 7 808

“Die mense is angstig, maar nie oor die virus nie, meer oor hul werk en finansies. Dis baie hartseer”, sê hy. “Maar, dis ook asof mense begin gewoond raak aan die nuwe situasie. Waar ons baie telefoniese konsultasies gedoen het, begin al meer pasiënte weer praktyk toe kom. Van volgende week af is ons weer voltyds aan die gang.”

Dan lag hy vir die eerste keer lekker, soos wat ek hom ken, synde dat ek een van sy eerste pasiënte was in 2016. “Ek bly alleen, en in die dae wat ek weet ek moet spreekkamer toe gaan, is ek so opgewonde ek is al half 5 op en aan die gang.”

Dr. Müller sê die protokol hoe om pasiënte wat moontlike simptome toon te hanteer is op ‘n stadium amper daagliks verander. Dit het dinge moeilik vir hulle as dokters gemaak. “Dit was nogals deurmekaar. Ons was baie besig, want almal het gedink hulle het dalk die koronavirus onder lede. Met elke pasiënt het ek gedink, doen ek nou die regte ding? Ons moes ten eerste die paniek minimaliseer.”

Twee maande later en na aanleiding van gevalle in ander provinsies, asook oorsee, weet hulle darem nou dat nie almal wat positief toets ernstig siek word nie en almal het beslis nie nodig om gehospitaliseer te word nie. “Ons gryp so maklik die negatiewe nuus en trek dit na ons toe aan. Ons moet ook na die positiewe in hierdie situasie kyk. Baie mense het al herstel van die virus sonder enige blywende skade.”

LEES OOK: Paartjie se stryd om pienkvoet te registreer

Die gesprek raak vir ‘n oomblik filosofies. Ons  wonder saam of die wêreld ooit weer dieselfde gaan wees. Besluit dan nee, dit kan nie. Die koronavirus het reeds ‘n blywende indruk gelaat. Miskien sal dié ramp mense met ander oë na aansteeklike siektes laat kyk. Soos TB byvoorbeeld, hoogs aansteeklik, met ‘n hoë sterftesyfer, maar hoe bedag is ons daarop om dit te voorkom? Miskien sal ons na dese anders begin dink oor die lewe. Meer dankbaar wees, veral as jy nog ‘n werk het en ‘n inkomste… Weer is daar stilte. Dokter en joernalis laat die gedagte insink… ons is van die bevoorregtes.

Die keer is dit die joernalis wat eerste stem terugkry. “Het jy ‘n spesiale boodskap vir ons lesers vir hierdie tye, so uit ‘n dokter se oogpunt?”

Die glimlag is terug in sy stem: “Ja, sê vir hulle die regering probeer ook maar net. Al stem jy nie met al die maatreëls saam nie, stick with it. Dis nie net vir jouself nie, maar ook vir ander se beskerming. Jy weet nooit wanneer is jy die een wat erger gaan reageer op die virus nie. Die lewe gaan aan ten spyte van die koronavirus, maar moenie kanse vat nie. Dit is ons almal se verantworodelikheid om ons deel te doen. Keep faith en gaan aan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button