Vaaldriehoek groet entrepreneur en nyweraar
VEREENIGING. – Van ’n klein vis en chips kafee by die ingang van Vereeniging se middestad tot een van die vernaamste vervaardigers van vrugtesap en mageu in die noorde van Suid-Afrika. Dit is die lewensdraai wat die ontslape Bill du Preez, medestigter van die familieonderneming Take 5, saam met sy vrou Grace en hul kinders …
VEREENIGING. – Van ’n klein vis en chips kafee by die ingang van Vereeniging se middestad tot een van die vernaamste vervaardigers van vrugtesap en mageu in die noorde van Suid-Afrika.
Dit is die lewensdraai wat die ontslape Bill du Preez, medestigter van die familieonderneming Take 5, saam met sy vrou Grace en hul kinders gestap het.
Bill se aardse reis het op 25 April 20h30 tot ’n einde gekom.
Hy was 94.
Volgens Bill se jongste seun, Perry, het sy pa die laaste drie jaar veral met sy gesondheid gesukkel.
“Hy is deur baie pyn en lyding, en het beide sy bene in die tyd verloor weens verskeie gesonsheids toestande. Sy hart het vergroot en sy longe was aangetas. Grace het hom met behulp van versorgers by die huis opgepas. Hy was met tye in en uit die hospital,” vertel Perry.
Mense van die Vaaldriehoek sal Bill as ’n bewese sakeman onthou, hy het feitlik van niks af gekom en saam met sy vrou en kinders ’n baie suksesvolle onderneming in die Vaaldriehoek gevestig.
Take 5 vervaardig vandag vrugtesappe en mageu en het ’n fabriek in Telfordstraat in Duncanville met talle verspreidingsdepots in Johannesburg, Polokwane en Nelspruit.
Maar dit was nie altyd so nie.
Bill het in die klein dorpie van Koffiefontein in die Vrystaat grootgeword en homself as elektrisiën bekwaam.
Hy het in sy jonger dae op die myne gewerk en later vir United Stainless Steel Company (Usco) in Vereeniging.
Perry vertel: “My ma en pa het in Peacehaven gebly en was nie die rykste mense nie.
“My pa en oupa het met Subway Fish en Chips (’n onderneming wat na Vereeniging se duikweg op pad na die middestad vernoem is) begin. Die bushaltes in die dorp het naby gestop en die besigheid was baie popular, veral vroegoggend vir vetkoek en ander warm kosse.
“Een dag het ’n kliënt by die kafee ingestap en gevra vir mageu (’n tradisionele Suid-Afrikaanse drankie wat van gefermenteerde mieliepap bestaan.) Die produk word lank reeds deur Suid-Afrika se inheemse bevolking geniet.
Bill en sy vrou Grace het in daardie stadium nie geweet wat dit is, of hoe om dit te maak nie. Hulle het besluit om meer daaroor uitgevind. Hulle het met baie probeer slae geleer hoe om dit te maak. Die produk is vernoem na Mev Grace Du Preez, daarom die volle naam van “Madu Mageu”.
“Vandaar het die idee gekom om die Take 5 fabriek te begin,” verduidelik Perry.
Die fabriek het begin om Mageu te vervaardig maar het later ook uitgebrei om vrugtesappe te maak.
Vandag word die produkte regoor Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, Kwa-Zulu/Natal, Vrystaat en sekere gedeeltes van die Noord-Kaap versprei.
Die familieonderneming neem volgens Perry vandag om en by 150 mense in diens.
Perry onthou sy pa as ’n mens met ’n fantastiese sin vir humor, en ’n liefde vir mense en gesels.
“Hy was mal oor karre en deftig aantrek. Daar is baie mense wat hom in die dorp geken het. Hy was ’n man met groot hart wat mense gehelp het waar hy kon. Hy was ‘n lid van die NG Kerk in Drie Riviere wat hy weekliks bygewoon het en veral die gesing van liedere geniet het.
Bill is verlede week veras. Volgens Perry sal daar later vanjaar ’n gedenkdiens vir hom gehou word wanneer inperkings weens die koronavirus gelig word.
Bill word oorleef deur sy vrou Grace wat nou 90 is, sy 3 seuns , 6 klein kinders en 3 agter kleinkinders.
Bill du Preez, bekende sakeman en nyweraar van die Vaaldriehoek, is op 25 April oorlede.
Madu Mageu, ’n trotse uitvoerproduk van die Vaaldriehoek, is na Bill du Preez se vrou, Grace du Preez (“Ma du Preez”), vernoem.





