Wat ‘n Moedersdaggeskenk – Tara is terug!
Geliefde Great Dane is tuis na 11 dae wat die gesin en hondeliefhebbers na haar gesoek het.
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Na dae en nagte van kommer oor hul hondekind, Tara, wat op 29 April vermis geraak het, gaan Moedersdag 2020 altyd deur Lynette de Winnaar en haar gesin as een van die mooiste dae in hul lewe onthou word. Die rede: Tara is terug!
Duisende hondeliefhebbers van die Vaaldriehoek het die afgelope twee weke op Facebook en WhatsApp-groepe kennis geneem van Tara, ‘n Great Dane, se verdwyning. Baie simpatiseerders het daagliks elke moontlike leidraad deurgegee in ‘n poging om Lynette te help op Tara terug te kry.
Gisternamiddag, Saterdag 9 Mei, was een van die laagtepunte toe Lynette gejaag het na ‘n stuk veld in SE7, waar mense twee of drie swart honde gesien het. Die hoop het opgevlam dat Tara een van hulle kon wees. Dit was toe nie sy nie en Lynette is hartseer terug huis toe. “Maar ek het besluit om nie moed op te gee nie. Ek sou aanhou soek al neem dit vir altyd,” sê Lynette.
“Vanmiddag (Sondag), 10 voor 4, bel Dillyn Hepburn van Dick Kingstraat my en sê: “Tannie, ek dink ek staan en kyk vir Tara. Kom gou!”
Lynette het na die veldjie agter Spar in Fitzsimmonsstraat, SE6, gejaag – skaars 100 meter van die De Winnaars se huis af.
“Toe ek haar op ‘n afstand sien het ek dadelik geweet dis Tara, maar toe sy vir my kyk, besef ek sy is heeltemal deurmekaar en verwilderd. Ek is in die veld in en het na haar bly roep, maar sy het net aanhou hardloop…. soms heeltemal gaan plat lê sodat ons nie kon sien waar sy is nie. Dan staan sy op en begin weer hardloop. Dillyn se pa, Dawie, en ma, Annatjie, het na die anderkant van die veldjie gery om haar te probeer voorkeer. Twee sekuriteitswagte van Rescom het intussen verbygery en gevra of hulle kon help. Ons het gevra hulle moes ook agter haar aanry en help om haar voor te keer.
“Dawie het uiteindelik daarin geslaag om Tara in te haal en teen die grond vas te druk. My dogter het Tara se halsband aangesit en ek het by haar gaan sit en haar kalmeer en haar vir meer as 15 minute net teen my vasgehou. Tara het my in die gesig begin lek en gespeel-byt.
“Ons is nou terug by die huis en ons ander honde is in ekstase om Tara terug te hê. Sy probeer ook met hulle speel maar sy is baie maer en uitgeput. Ons het intussen vir haar baie elektroliete met rooibos, Ensure en ‘n bietjie hondekos gegee.
“Moreoggend, eerste ding, gaan sy veearts toe sodat ons kan seker maak sy is okei, en as sy sterk genoeg is, wil ons haar ook dadelik laat “chip”. Hierdie was die eerste keer ooit dat Tara self uit die erf gegaan het – vermoedelik was ons hek nie behoorlik toe nie.”
Tara se verdwyning het die De Winnaars behoorlik ontstel omdat sy soos ‘n kind in die huis is. Lynette was by toe Tara sowat 16 maande gelede gebore is en het self die vrugwatervlies om Tara losgemaak omdat die hondema nie mooi geweet het hoe nie. Lynette se wêreld was die afgelope 11 dae onderstebo weens kommer en hartseer, maar nou jubel sy saam met die res van die gesin.
“Baie, baie dankie aan almal wat ons ondersteun het en na Tara help soek het. Ek het nie genoeg woorde om almal te bedank nie,” sê Lynette, administratiewe bestuurder van die Laerskool DF Malherbe.
“Vannag slaap Johan in die spaarkamer want Tara gaan op ons dubbelbed by my slaap – in my arms!”
Kyk na die video waar Lynette almal bedank wat hulle die afgelope weke gehelp en bemoedig het:
https://www.facebook.com/lynette.millsdewinnaar/videos/pcb.2650776548582500/2650775785249243/?type=3&theater



