Magda en haar Charlie (hadida) … en res van kroos – sien video
VEREENIGING. - Magda Maire en haar Fransman, Gerald, is al 38 jaar gelukkig getroud en hoewel hulle nie kinders het nie, het hulle wel 'n unieke "kroos". Hiervan is Charlie ('n hadida) natuurlik die middelpunt van belangstelling, en hoewel Magda dit geensins sê nie ...wil dit voorkom of sy 'n "soft spot" vir hom het.
Dit het alles begin omdat Magda vandat sy kan onthou, nog altyd ‘n groot diereliefhebber was. Sy kan onthou hoe hul hond Snuffels, ‘n goue retriever, haar as peuter beskerm en aanhou wegkeer het van ‘n rioolgat en waarskynlik haar lewe gered het; sy onthou daai vreugde toe sy Wollie (haar skaaphond) die eerste keer gesien en dadelik haar hart verloor het; sy onthou hoe ‘n worshond haar gebyt het, maar haar liefde teenoor honde onveranderd gebly het.
En dit wil voorkom of diere hierdie spesiale band kan aanvoel. Honde-eienaars was reeds telkens verbaas om te sien hoe hul “kwaai” honde toelaat dat Magda eenvoudig haar arms om hulle vou.
Selfs kwaai katte wat maklik hulle naels in mense slaan, laat toe dat Magda hulle optel en vertroetel tot groot verbasing (en soms seker so bietjie jaloesie) van die eienaars.
En so brei Magda se liefde vir diere uit na alle spesies. Omdat voëltjies ook moet eet, besluit sy en haar buurman dus om saam plan te maak. Hy gee in die oggend vir die buurt se geveerde vriendjies kos in sy erf, en saans is dit Magda se beurt. Maar op ‘n dag kla buurman dat daar ‘n rondloper kat is wat die voëltjies vang … en Magda maak ‘n plan.
Sy weet as sy die kat kos gee sal hy nie voëltjies hoef te vang nie. Maar toe is dit ‘n ma-kat met twee kleintjies. Toe die ma-kat sien haar kleintjies kry nou gereeld kos is sy fort, en Asjas en Spikkels bly agter.
“Een dag gooi ek in ‘n lang ry vir die katjies “pellets” en toe ek weer sien land ‘n hadida. Die hadida begin aan die een punt eet en Asjas aan die ander kant,” vertel Magda. Asjas trek toe sommer sy ruggie krom om te wys dis sy kos, en die hadida sprei sy vlerke om te wys dis syne. “Ek wou net bekommerd word, maar toe eet hulle in vrede saam,” sê Magda.
Daardie einste hadida is nou onse Charlie. Magda het daarna elke middag vir die katte en Charlie saam kos gegee. Kort voor lank het Charlie vir Sam en Samantha (moontlik sy ma en pa – spot Magda) saamgebring. Dit was sowat ‘n jaar terug.
Intussen is daar nou sowat 19 hadidas wat in die middae met ‘n gejuig by die huis opdaag, want hulle weet om 16:00 is dit etenstyd.
Intussen het Spikkels ‘n baba gehad, Pippie, wat saam met 4 ander katte in die huis bly. Dan is daar Zoë die skaaphond, en Sparky ‘n optelhondjie wat Magda gered en DBV toe gevat het, net om 3 weke later weer by die DBV te gaan aanneem het, en nog ‘n hondekind Jack.
Daar is dus baie “kinders” in die huishouding om na om te sien en Magda geniet elke oomblik daarvan. “Ek dink dit is maar net in party mense om so lief te wees vir diere. Dit is vir my ‘n ongelooflike lekker gevoel as ‘n dier my vertrou,” sluit Magda af.
- En dit is vir Vaalweekblad ‘n lekker gevoel om te weet daar is mense soos Magda.

Magda Maire van Vereeniging en een van haar viervoetkinders, Zoë die skaaphond. 
Pippie nog as klein katjie by ma Spikkels. Pippie het intussen ‘n huiskat geword. Op die bordjie agter hulle staan: Have a heart and rescue a friend.



