Netbal borrel en bruis in haar are
SASOLBURG. – Uitskieters word gebore en word algaande net beter. Die beskrywing slaan die spyker op die kop wanneer mens die 46-jarige Amanda Dreyer in ʼn neutedop moet opsom. Sy is tans een van slegs twee elite netbalafrigters in Sedibeng en is ook die afrigter van die NWU Vanderbijlpark se netbalspan. Sy het van kindsbeen …
SASOLBURG. – Uitskieters word gebore en word algaande net beter.
Die beskrywing slaan die spyker op die kop wanneer mens die 46-jarige Amanda Dreyer in ʼn neutedop moet opsom. Sy is tans een van slegs twee elite netbalafrigters in Sedibeng en is ook die afrigter van die NWU Vanderbijlpark se netbalspan.
Sy het van kindsbeen af ʼn natuurlik aanvoeling vir netbal gehad en haar vernuf op die baan het gesorg dat sy altyd vir ʼn ouer ouderdomsgroep gespeel het.

“Op skool was ek elke jaar as die Speler van die Jaar aangewys en het ook provinsiale kleure verwerf. Ons is tans net twee elite afrigters in Sedibeng en word streng deur Netbal Suid-Afrika gereguleer. Ons moet ook gereeld kursusse bywoon,” vertel sy.
ʼn Elite afrigter word toegelaat om op Varsity-vlak en hoër af te rig en slegs die room van die oes mag op hierdie titel aanspraak maak.
As afrigter het haar spanne al vele ligas gewen en sy het ook al die titel Sedibeng provinsiale afrigter agter haar naam geskryf.
“Om ʼn elite afrigter te wees, is ‘n voorreg maar ook harde werk,” sê sy.
Maar vir harde werk was die boorling van Potchefstroom nog nooit bang nie. Almal wat haar ken weet sy durf alles met oorgawe aan. Haar benadering tot netbal is ook eenvoudig maar effektief. “Netbal is ʼn spansport en dit gaan nie oor die individu nie, maar oor wat jy vir jou spanmaats beteken. Balhantering, voetwerk, uithouvermoë en spangees dra ook by tot ʼn goeie speler. My doelwit is om elke speler te ontwikkel en altyd daar vir hulle te wees nie net as ʼn coach nie. “
Hoewel Covid-19 die sportwêreld op sy kop gekeer het, is sy daagliks in aanraking met haar spelers, wat glo dit of nie steeds fluks aan die oefen is. Mens kan nie wag om te sien wat sy en haar spelers aanstaande jaar gaan vermag nie.



