SASOLBURG. – Die Desembervakansie het op ‘n tragiese noot begin vir ‘n familie van die dorp toe Bennie (39) en Janel (31) Groenewald in ‘n noodlottige ongeluk betrokke was.

Bennie en Janel was die aand omstreeks 20:30 onderweg op die R59 toe, volgens ‘n ooggetuie, ‘n vragmotor in die rigting van Sasolburg op die R59 gedraai het en Bennie vir hom moes uitswaai. Met die uitswaai vir die vragmotor op die kruising het die Groenewalds se motor van die brug op die R59 afgery en op die middelman op die N1-snelweg net voor die Kroonvaal-tolhek te lande gekom. Bennie en Janel is op die toneel dood. Albei het in Sasolburg grootgeword waar Bennie aan HTS Sasolburg en Janel aan Afrikaans Hoër gematrikuleer het. Janel het by Omnia en Bennie by Anysco in Meyerton gewerk, maar hulle het steeds in Sasolburg gewoon. Hulle was die afgelope 10 jaar gelukkig getroud en het twee pragtige seuns wat onderskeidelik 6 en 9 jaar oud is. Die seuns bly nou by Janel se ouers.
Volgens familie en vriende was Bennie en Janel groot familiemense en was hul kinders hulle hele lewe.
Hulle het ‘n groot vriendekring gehad en was geliefd onder hulle maats, soos gesien kan word aan die volgende Facebook inskrywing op Bennie se profiel: “Met ‘n traan in my oog, groet ek die profile. Dankie aan almal wat gister saam met ons was, ek kon nie glo daar was so baie mense wat vir jul omgee nie, ‘n stampvol kerk was iets wat mens nie deesdae sien. Wat vir my die mooiste was, was toe die predikant eers voor die twee klein manne gaan sit het en eers met hul gepraat en weer verduidelik het, en toe terug is preekstoel toe. Julle, die spanmaats en Benna se rugbyvriende het Sasolburg se strate geblok sodat die stoet ‘n stoplose rit begraafplaas toe het.”
Volgens Janel se ma, Ansie, was Bennie en Janel nie net hul kinders nie, maar hul ‘pêlle’. “Dit is baie hartseer, en die pyn gaan lank vat om weg te gaan, ek mis hulle daagliks. Ons wil net baie dankie sê vir al die ondersteuning wat ons deurgaans by al die familie en vriende gekry het en steeds daagliks kry. Ons waardeer al die liefde, gebede, oproepe, ondersteuning, kuiers en blomme. Baie dankie ook aan Janel en Bennie se onderskeie werksplekke vir alles wat hulle in die tyd gedoen het,” sê Ansie.
Bennie en Janel is op 18 Desember ter ruste gelê vanuit die NG Kerk Fonteine.



