‘Ons wil (gesond) werk’ – Solidariteit-lede daag by ArcelorMittal op
VANDERBIJLPARK. - Solidariteit-lede het vanmiddag omstreeks 13:00 by ArcelorMittal opgedaag om te werk. Die aanmelding by die werk is uit protes teen inperkingregulasies wat tot gevolg het dat honderde duisende mense nie kan werk nie. Die aanmelding by die werk volg nadat Solidariteit aan duisende werkers oor die land gevra het om druk op die regering te plaas sodat alle maatskappye wat gesond kan werk, kan opmaak.
“Die vlakke van werksverlies en die krisis wat onstaan het as gevolg van mense wat net ’n gedeelte van hulle salarisse ontvang, is van so ’n omvang dat Solidariteit-lede dwarsoor Suid-Afrika gesê het hulle gaan begin om by werkplekke aan te meld,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.
Die werkers het met beskermende maskers, handreinigers en omvattende voorstelle om gesond te kan werk, by die staalaanleg opgedaag.
Die aksie by ArcelorMittal is deel van ’n omvattende veldtog van Solidariteit waardeur duisende werknemers dwarsoor Suid-Afrika ’n openbare verklaring teken waarin geëis word dat diegene wat gesond kan werk, kan terugkeer werk toe.
“Ons maak nie ’n keuse tussen gesondheid en werk nie; ons kies vir gesonde werk. Ons het ’n omvattende Goeie Praktykskode ontwikkel om werkgewers in staat te stel om te kan werk. Al wat tussen gesonde werk en werkers staan, is die regering se regulasies.
“Ons glo dat die onus na maatskappye moet skuif om hulle gereed te kry om veilig en gesond te werk. Die sentrale beplanning van die ekonomie lei tot groot skade aan die ekonomie,” het Hermann gesê.
Volgens Hermann veroorsaak besluite wat op sentrale vlak geneem word, dat sekere maatskappye moet sluit, en hulle word dus ontneem van die geleentheid om hul eie kreatiewe planne daar te stel om gesond te kan werk.
Solidariteit is onverskrokke in sy weerstand teen die virus, maar ook onverskrokke in sy standpunt ten gunste van werk en die ekonomie.
“Tienduisende mense is gereed om te werk en duisende maatskappye wat kan oopmaak, moet gesluit wees as gevolg van bevele van ’n bevelsraad. Suid-Afrika is egter nie ’n diktatorskap wat bevele van ’n bevelsraad moet gehoorsaam nie. Suid-Afrika is ’n demokrasie met burgers wie se stem gehoor moet word.
“Ons doen ’n beroep op duisende werkers om hul stem te laat hoor. Ons hoef nie net stil te bly terwyl ons werk vernietig word nie.
“Solidariteit glo nie dat die stimulering van ekonomie en die stryd teen die virus teenoor mekaar staan nie. Die stryd teen die virus het die ekonomie nodig, en die ekonomie het ’n effektiewe stryd teen die virus nodig,” het Hermann afgesluit.
Werknemers wat die openbare verklaring wil teken, kan dit doen by https://corona.org.za/reg-vir-werk/ of deur WERK te SMS na 34802.









