Sangeres Charlie Dicks wag byna 5 jaar vir wonderbaarlike herstel
"Ek dank God dat wonderwerke vandag nog ‘n realiteit is, al gebeur dit nie oornag nie."

Charlie Dicks, die Vaaldriehoekse sangeres wat landwyd bekend is vir haar pragtige Gospel-musiek, vertel hier van haar genesing, wat sy as ‘n ware wonderwerk bestempel:
Soms getuig iemand se stilte van ‘n stukkie seer wat nog te rou is om met ander te deel. Op 29 Februarie 2016 hoor ek die ENT (oor-neus-en-keelspesialis) wat in stembande spesialiseer sê, dat hy my nie kan waarborg dat ek ooit weer sal kan sing nie. Stembandverlamming!! Ek was stukkend – in al die fasette van my menswees!!
Die stembandverlamming was die resultaat van ‘n wrede aanval op my en André ‘n maand tevore. (Dit is ‘n storie vir ‘n ander dag…) Hierdie mooi serp op die foto was die dag voor my besoek aan die ENT ‘n geskenk van ons dogter Melissa aan my as “simbool van geloof”, dat ons die Here sal vertrou vir ‘n wonderwerk, maak nie saak wat die spesialis se bevinding sou wees nie.
Dit was nie ‘n maklike pad tot hier nie! Vandag (vier jaar en vyf maande later) het die wonderwerk feitlik sy sirkel voltooi – ek kort nog ‘n paar note in my natuurlike register tot volkome herstel MAAR ek kan alweer sing en optree sonder hulpmiddels. Mooi loop.



