Local newsNewsNews

Vanderbijl se tannie Babs (92) nog fiks en vrolik

VANDERBIJLPARK.  – Kyk, daar is maniere én maniere om ‘n storie te kry, veral so met die inperkingstyd saam moet ‘n joernalis soms erg kreatief raak. Ek kyk vanoggend wat gebeur op bakkiesblad. ‘n Foto van een van my vriende vang my oog. Hy het ‘n baie mooi foto geneem van ‘n tannie van 92 wat op haar skooter op pad was winkel toe. Bygesê, Albertus Kriel is ‘n kranige fotograaf, maar vanoggend het hy sommer ekstra talente getoon. Ek stuur ‘n boodskap in die hoop dat hy meer info oor haar gekry het, want my brein skreeu storie!

Hy het haar naam, van en ouderdom. Dis al meer inligting as wat die meeste ander sou dink om te vra. “Ek wil kort storie skryf” lig ek hom in. Ek maak die joernalis in hom wakker. “Watter vrae kan ek haar vra? Ek gaan haar soek” laat weet hy my. Hy vind haar wraggies waar weer op haar pad huis toe. Ek kry ‘n whatsapp oproep. Hoor hoe verduidelik hy aan die tannie wat is sy missie. Tannie Babs Brink dink dit is baie snaaks dat die koerantmense hier uit die bloute nou oor haar wil storie, maar stem tog in tot die onderhoud.

‘n Halfuur later kry ek die nodige inligting van my nuwe “korrespondent”. Dit blyk dat Tannie Babs al die jare in Parys gewoon het en steeds ‘n huis daar het. Sy het egter sowat vyf jaar terug by haar dogter, Suzette Odendaal, in Vanderbjlpark kom bly. Tannie Babs glo daarin om aktief besig te bly. Deur die dag doen sy kraletjiewerk en speel breinspeletjies soos Sudoku op haar tablet.

Sy het geen klagtes nie, behalwe dat haar skooter vanoggend nie heeltemal so vinnig wou ry as waaraan sy gewoond is nie. Die battery was bietjie pap. Seker dié dat ons “korrespondent” haar toe ‘n tweedemaal kon inhaal! Alhoewel sy nog kan motor bestuur, verkies sy om dit nie meer te doen nie.

Tannie Babs is baie trots op haar vier kleinkinders en vier agter kleinkinders. Op 92 is sy nog onafhanklik en lus vir die lewe. Die tannie het ook by die reëls gehou en haar masker gedra.  Dink ons kan almal by die vriendelike tannie Babs leer dat die regte gesindheid ‘n groot verskil kan maak. En kudus aan die fotograaf vir ‘n baie mooi foto!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button