Ouma Lillian (101) Hibiscus-tehuis se oudste inwoner
MEYERTON. - Daar is min mense wat die voorreg sal hê om hul 100ste verjaarsdag te kan vier, maar ouma Lillian Lane spog reeds met 101 verjaarsdae en die titel as Hibiscus-tehuis se oudste inwoner. Sy het op 3 Apil dié groot dag gevier!
“Ouma Lillian is reeds sowat ‘n jaar in ons sorg en beslis die oudste oumatjie waarna ek nog moes omsien,” sê Natasha van der Merwe van Hibiscus.
Ouma Lillian is half blind en half doof, maar kan nog loop. Sy het sowat ‘n maand gelede ‘n operasie ondergaan waartydens daar penne in bo-been geplaas is. Sy het dit deur die operasie gemaak en goed herstel, waarna sy ook weer begin loop het.
Natasha het haar bes probeer om so bietjie meer oor ouma Lillian uit te vind, want met 101 jaar se lewensondervinding moet daar beslis ‘n paar interessante staaltjies en hoogtepunte wees. Ongelukkig kon Natasha nie baie inligting by die familie kry nie, behalwe dat ouma Lillian in die Kaap gebore is. Sy het ook haar skoolloopbaan daar voltooi. Sy het daarna liefde gevind en was in die eg verbind, maar haar man is vermoedelik op jong ouderdom aan longontsteking oorlede.
Sy was gelukkig om weer liefde te vind. Sy is weer getroud en die egpaar het hulle in die destydse Natal gevestig tydens die oorlog. Na die oorlog het die Kaap geroep en die egpaar het soontoe getrek. Daar het sy in ‘n bakkery gewerk. Die egpaar het ‘n seun gehad.
Wat daarna alles gevolg is duister. Daar is nie sekerheid wanneer ouma Lillian se tweede man oorlede is nie, maar haar seun is ook later jare, net soos haar eerste man aan longontsteking oorlede. Ouma Lillian het by familie in Gauteng gebly voordat sy uiteindelik ‘n inwoner van Hibiscus geword het.
Daar is beslis baie meer wat mens graag oor ouma Lillian sal wil weet, maar wat Natasha wel weet is dat ouma Lillian baie lief is vir honde (haar hond se naam is Stormy), asook vir eet en haar tee.



