NWU-kolfkoning mik na nuwe hoogtes
VANDERBIJLPARK. – Om ʼn kolfbeurt te open en ʼn aanstormende aanvangssnelbouler stip in die oë te kyk is sy kos. Die 22-jarige Ruan Havenga, aanvallende aanvangskolwer van die NWU Vaal se krieketspan, is ʼn gebore krieketspeler van wie daar groot dinge verwag word. Hoewel die derdejaarstudent homself tans in finansiële rekeningkunde aan die Vanderbijlparkkampus bekwaam, …
VANDERBIJLPARK. – Om ʼn kolfbeurt te open en ʼn aanstormende aanvangssnelbouler stip in die oë te kyk is sy kos.
Die 22-jarige Ruan Havenga, aanvallende aanvangskolwer van die NWU Vaal se krieketspan, is ʼn gebore krieketspeler van wie daar groot dinge verwag word.
Hoewel die derdejaarstudent homself tans in finansiële rekeningkunde aan die Vanderbijlparkkampus bekwaam, is sy groot lewensdroom om homself as ʼn beroepkrieketspeler te vestig.
Hy het reeds op ʼn jong ouderdom die oog van Albert en Malan Morkel gevang wat die destydse NWU Vaal Krieketakademie gestig en bestuur het.
“Ek het hom op laerskool raakgesien en geweet hy het meer talent as om net plaaslik te speel. Ons het vir hom ʼn beurs by Hoërskool Garsfontein gereël. Als het daarna volgens plan verloop, hy het die Titans-groepe gehaal en oorsee gaan speel. Ek en sy mentors by Garsfontein het hom nog altyd hoog aangeslaan,” sê Albert Morkel, pa van die voormalige Protea-spelers, Albie en Morné.

Maar, sy welslae op die krieketveld het nie net in sy skoot geval nie. “Ek het baie hard gewerk om te kom waar ek is. Slapelose nagte van oefen. Ek het selfs krieket in my koshuiskamer geoefen. Oggende vieruur begin oefen tot 15:00 in die middag saam met die SSE Akademie,” vertel Ruan.
Sy krieketvernuf is nie net tot wilgerlatswaai beperk nie. Hy is ook ʼn goeie bybreekbouler wat met persoonlike beste syfers van 6/21 spog. Sy hoogste telling van 221 lopies het hy in die Pretoria Premierliga gemoker, wat nie te versmaai is nie.
Die hoogtepunt van sy krieketloopbaan was toe hy in 2017 die SA Plattelandspan gehaal het. Hy is tans ook die kaptein van NWU Vaal se USSA krieketspan en geniet dit om sy kennis terug te ploeg.
Hy het by die Northern Akademie saam met groot name soos Rassie van der Dussen, Junior Dala en Henry Davids geoefen.
Sy benadering tot die spel is eenvoudig. “Mens moet besef dis ʼn spansport. Sodra jy op jou eie probeer speel gaan dit sleg gaan. Krieket is baie meer ʼn ‘mental’ game as wat dit fisies is.”
Hoewel hy hoog mik, weet hy dat mens ʼn olifant een happie op ʼn slag moet opeet. “Ek wil graag my krieket na die volgende vlak toe vat. Begin met Gauteng Akademiespan en later die Strikers-span haal. My grootste droom is om op televisie my debuut te maak,” gee hy te kenne.
“Ek konsentreer nou op my studies, omdat dit aanlyn is, maar ek bly fiks en skerp vir as daar weer ʼn geleentheid verbykom dat ek gereed is.”
Hy is ook lief vir afrigting en bied deeltyds kolf- en krieketlesse tussendeur sy studies aan. “ Ek wil graag my vlak 2-afrigtingskursus voltooi en later ʼn akademie of iets begin,” vertel hy.
*Vanaf 1 Junie word nie kontaksportsoorte weer toegelaat, wat goeie nuus vir die land se krieketspelers en liefhebbers is.



