NewsNews

Kaal, nat en vuil in staatshospitaal

SASOLBURG. – ‘n Gesin van die dorp was onlangs vir meer as twee weke in ‘n hospitaal-nagmerrie gedompel.

SASOLBURG. – ‘n Gesin van die dorp was onlangs vir meer as twee weke in ‘n hospitaal-nagmerrie gedompel.
Op 17 Desember is hul 24-jarige seun in ‘n ernstige motorongeluk beseer. Hy het ‘n ernstige kopbesering opgedoen en ‘n erg gebreekte regter enkel. Hy is op 18 Desember na die Pelenomi Hospitaal in Bloemfontein geneem, waar hy twee weke in die intensiewe sorgeenheid en daarna vir ‘n week in die hoësorgeenheid behandel is.
Volgens sy ma het hy puik versorging by dié hospitaal gekry. Op 9 Januarie het die drama egter begin toe hy na die Sasolburg Provinsiale Hospitaal oorgeplaas is.
“Ons het nooit ‘n dokter gesien nie en die verpleegsters kon nie ons vrae beantwoord nie. Sy enkel is in gips en ons het nie ‘n idee hoe lank hy dit nog moet dra nie. Ons vermoed boonop dat die enkel septies kan wees,” sê sy ma, wat anoniem wil bly om haar seun se identiteit te beskerm.
Met haar besoek op 10 Januarie het sy gemerk dat die buisvoedingsak (drup) in twee geskeur is. “Toe ek die verpleegsters vra waarom dit so is, het hulle gesê my seun het dit met sy tande stukkend gebyt en die soutwater gedrink. Wat dit vir my sê, is dat hulle nie vir hom water gegee het nie en dat dit sy enigste ander opsie was.
“Hy het ‘n breinbesering opgedoen en kan nie praat nie. Hy het daar gelê met ‘n kateter in en ‘n doek aan. Hy was afhanklik van die verpleegsters,” sê sy ma.

‘n Aaklige gesig vir enige ouer om hul seun naak, vuil en bewend op ‘n matras op die vloer in ‘n hospitaal aan te tref. Foto: Verskaf
‘n Aaklige gesig vir enige ouer om hul seun naak, vuil en bewend op ‘n matras op die vloer in ‘n hospitaal aan te tref. Foto: Verskaf

Sake het egter volgens haar met elke besoek erger geword. “Op Maandag 18 Januarie het ons my seun gekry waar hy op ‘n kaal, vuil matras op die grond lê. Dit is blykbaar gedoen vir sy eie veiligheid omdat hy volgens die verpleegpersoneel wou opstaan. Sedertdien was hy die hele tyd op die vloer.
“Die volgende dag omstreeks 15:00 het ons hom gekry, steeds op die grond, met sy kos op die bedkassie waar hy dit nie kon bykom nie. Daardie aand net voor sewe het dit steeds net so daar gestaan.
“Niemand het hom gehelp om te eet of om water te drink nie, ons het dit maar met elke besoektyd gedoen, maar wat van die res van die tyd?”
Op 21 Januarie het hulle hom naak, bedek met sy eie ontlasting gevind. Hy het ‘n gesighanddoek oor sy lyf probeer trek en het gelê en bewe van die koue. “Ek het dit heeltemal verloor en die verpleegsters aangevat. Hulle het gesê hulle is slegs drie mense wat na 38 pasiënte moet omsien en het nie tyd om met hierdie klagte te help nie.”
Nadat hulle op 23 Januarie vir die soveelste keer gekla het oor die nat matras waarop hul seun moet lê, het die hospitaal hom op Sondag 24 Januarie ontslaan.“Hy moet nog soveel terapie ontvang, maar nou sal ons ons eie potjie krap en geld iewers kry om te sorg dat hy die regte behandeling kry,” sê sy ma.
* Vaalweekblad het die klagtes aan die Vrystaatse Departement van Gesondheid gestuur, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button