Man met pynlike breuk weggewys
VANDERBIJLPARK. - ‘n Man met ‘n ernstige breuk is moedeloos nadat verskeie hospitale hom heen en weer stuur terwyl hy met pyn moet saamleef wat boonop moontlik tot sy dood kan lei.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Man met ‘n ernstige breuk is moedeloos nadat verskeie hospitale hom heen en weer stuur terwyl hy met pyn moet saamleef wat boonop moontlik tot sy dood kan lei.
David Swindon (49) se probleme het in Junie verlede jaar begin toe hy ‘n gat in ‘n derm ontwikkel het. Hy is na die Sebokeng-hospitaal vir ‘n noodoperasie verwys, aangesien kos deur die wond in sy buik gelek het. Na die operasie het die wond septies geword. David is aangesê om oor ‘n maand ‘n afspraak by die dokter te maak.
Hy het egter besluit om maar op eie onkoste by Mediclinic Emfuleni om hulp aan te klop. Danksy die nodige antibiotika is die infeksie beveg en het hy gesond geword.
Daar was egter ‘n knop op sy maag wat al groter geword het. Hy is by die Johan Heyns-kliniek ingelig dat daar weer geopereer sal moet word. Hierdie noodsaaklike operasie sal egter eers in Mei by die Sebokeng-hospitaal gedoen kan word.
Die probleem is egter dat die septiese wonde die derms deur die maagvlies gedruk het en dit lê net onder die vel. Dit veroorsaak hardlywigheid.
“Dit is baie seer en die pille help nie,” sê David. Hy het weer by die dokter gaan aanklop en dié keer is daar probeer om ‘n operasie by die Kopanong-hospitaal in Vereeniging te bewerkstellig.
Ongelukkig het dit ook nie gerealiseer nie en volgens David het die dokter by laasgenoemde hospitaal gesê dat hy maar tot in Mei met die breuk kan loop.
Indien daar iemand is wat vir David raad of kennis het hoe om gespesialiseerde staatshulp te kry, of ‘n oplossing het vir die pyn, kan sy skoonsuster Wilma by 071 741 7870 gekontak word.



