Groot skade na yskas brand
VANDERBIJLPARK. - ‘n Nuwe yskas wat glo op 11 Januarie aangekoop is, het onlangs om 03:00 die oggend onverklaarbaar aan die brand geraak en baie skade aangerig aan ‘n huis op die Nanescol-kleinhoewes.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Nuwe yskas wat glo op 11 Januarie aangekoop is, het onlangs om 03:00 die oggend onverklaarbaar aan die brand geraak en baie skade aangerig aan ‘n huis op die Nanescol-kleinhoewes.
Daar is ‘n gat in die plafon gebrand en vloere, kombuiskaste, ligte en ‘n horlosie het gesmelt van die hitte. Volgens die eienaar, Rhyno van der Westhuizen, was die hele huis met swart roet bedek. Al die kos in die kaste, asook die meubels, gordyne en beddegoed is onbruikbaar as gevolg van die verskriklike rook.
“Dit is baie skade as mens nog in ag neem dat die yskas R4 000 gekos het,” sê Rhyno. Hy en sy vrou Jennefer het dié oggend wakker geword van iets wat geklink het soos glas wat breek. “Toe ek die kombuisdeur oopmaak was dit net rook en vlamme. Die yskas het gelyk soos ‘n gasstoof met vlamme wat soos ‘n blaasvlam na boontoe uitskiet,” vertel Rhyno. Hy het dadelik sy vrou en hulle twee kinders, asook ‘n maatjie wat daar oornag het, na buite geneem. Hy het water by die badkamer geskep en eindelik self die brand geblus en die yskas buite gaan sit.
Hulle het dadelik die polisie geskakel vir hulp, maar hulle het nie gereageer nie. Twee ure later het hulle weer geskakel en steeds het hulp nie opgedaag nie. “Om 11:00 die volgende oggend het ons ‘n polisievoertuig wat toevallig in die omgewing was voorgekeer en om hulp gevra,” sê Jennefer. Sy is vol lof vir dié beamptes van die Barrage-polisie. “Hulle het ons baie gehelp, want daar moet ‘n polisieverslag ingedien word by die versekering voordat hulle die eis sal toestaan,” sê sy.
Die assessor was reeds op 11 Februarie by die huis om die struktuurskade te bepaal. Die gesin het egter nie versekering op die huisinhoud nie en het Makro goedgunstelik vir hulle ‘n koopbewys gegee. Volgens Rhyno onderhandel Makro met Defy oor die ongewone voorval. Aangesien die huis onbewoonbaar is, het die versekering hulle tydelike verblyf by Ingwe Lodge gegee. “Ons waardeer die baie,” sê die egpaar.



