Man vermoor vriendin, brand dood in voertuig
VANDERBIJLPARK. - ‘n Man wat na die moord op sy gewese vriendin na Bloemfontein onderweg was, het in die voertuig doodgebrand nadat dit met ‘n vragmotor gebots het. Mzwake Matha (32), het volgens ooggetuies probeer om homself te bevry nadat die voertuig na die ongeluk aan die brand geslaan het. Hy het egter enkele oomblikke later doodgebrand.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Man wat na die moord op sy gewese vriendin na Bloemfontein onderweg was, het in die voertuig doodgebrand nadat dit met ‘n vragmotor gebots het. Mzwake Matha (32), het volgens ooggetuies probeer om homself te bevry nadat die voertuig na die ongeluk aan die brand geslaan het. Hy het egter enkele oomblikke later doodgebrand. Die ongeluk het Donderdag 18 Februarie omstreeks 09:00 op die R59 net na die Taaibosspruit-brug aan die Vereeniging kant gebeur. Matha, wat van Bloemfontein afkomstig was, het volgens die bestuurder van die vragmotor twee ander voertuie probeer verbysteek toe hy reg van voor teen die vragmotor gebots het.
Die vragmotor het geknipmes en Matha se silwer Renault Megane het onder die agterwiele van die trok tot stilstand gekom.

Die voertuig het daarna aan die brand geslaan. Verskeie nooddienste, waaronder ER24, VEC, die brandweer, verkeer en die polisie het hulle na die toneel gehaas. Matha het probeer om homself te bevry, maar later toe sy lyk verwyder is, is vasgestel dat sy voete vasgesit het.
Die lyk was erg vermink na die brand en kon nie op die toneel geïdentifiseer word nie. Met die intense hitte het die vrag van die trok, wat uit sakke met geelmieliemeel bestaan en op pad na die Oos-Rand was, ook gebrand en het die meel in die voertuig ingestroom.
Die Viljoensdrift-polisie en paramediese personeel van Vaal Emergency Care en ‘n brandweerman van Metsimaholo Fire en Rescue kon Matha nie identifiseer nie en kon later met behulp van die enjinnommers vasstel dat die voertuig aan ‘n vrou behoort.
Die hele tragedie het egter ’n nadraai gehad, toe vasgestel is dat die vrou aan wie die voertuig behoort het, die oggend in haar woonstel in Peacehaven in Vereeniging vermoor is.
Joyce Lecheko (26) is die oggend net voor die ongeluk met ‘n mes doodgesteek in haar en ‘n vriendin, Precious Macucwa se woonstel in Trebor II Court. Volgens Precious het Mzwake die vorige aand om 18:00 onverwags daar aangekom.
Joyce was nie daar en het eers die volgende oggend om 05:00 by die huis gekom. Joyce en Mzwake het volgens Precious in die kamer gesels. Teen 07:45 toe Joyce op pad was werk toe, was Matha alleen in die woonstel.
“Die moord moes net daarna plaasgevind het toe Joyce teruggekeer het na die woonstel,” vertel Precious.
Volgens Precious wou Joyce na ’n wankelende verhouding niks meer met Matha te doen gehad het nie. Hy het volgens inligting naakfoto’s van haar lyk op haar Facebook-profiel geplaas nadat hy haar vermoor het. Die foto’s is intussen verwyder. Noodpersoneel en forensiese deskundiges was byna vier ure op die ongelukstoneel besig om Matha se oorskot stuk vir stuk te verwyder.
Die pad was tot laatmiddag gesluit en die verkeer het van albei kante opgehoop.
Die Viljoensdrift-polisie ondersoek die ongeluk en die Vereeniging-polisie die moord.




