Lewend uit wrak en dankbaar
VEREENIGING. - “Dit is ‘n wonderwerk dat ek leef. Mense moet glo in God en in wonderwerke.”

VEREENIGING. – “Dit is ‘n wonderwerk dat ek leef. Mense moet glo in God en in wonderwerke.” Dit is die woorde van Arend Pretorius (47) wat op die randjie van die dood was na hy in ‘n kettingbotsing betrokke was. Arend is een van die oorlewendes wat op 25 Junie 2015 in die kettingbotsing op die R59 betrokke was. Hy was onderweg na Johannesburg toe swaar rook weens ‘n veldbrand motoriste se sig belemmer het. Nege voertuie het teen mekaar gebots en vyf persone het beserings opgedoen, waarvan drie in ‘n kritieke toestand was. Arend was een van die mense wat noodpersoneel aanvanklik gedink het reeds dood is. Hy was vir meer as ‘n uur in sy voertuig vasgevang. Brandweerpersoneel van Midvaal Brandweer het hom met behulp van lewenskake uit die wrak gesny. Hy is op die toneel behandel, waarna hy per helikopter na die Unie Hospitaal in Alberton gevlieg is. Hy het onder meer hoofbeserings, lase-rasies en lewerskade opgedoen. Sy femur was ook gebreek en sy lip oopgesny. “Volgens die dokters was sy kans op oorlewing maar 42 persent, maar ek het geweet hy gaan dit maak. Ek het volle vertroue in die Here gehad,” se Arend se vrou, Antoinette. Arend was vir nege weke in die hospitaal, waarvan hy vir 35 dae in die intensiewe sorgeenheid was en 26 dae onder sedasie was. Daar is ook 200mm van sy dunderm en 100mm van sy dikderm verwyder. Hy was skaars vyf weke by die huis toe hy weer in die hospitaal opgeneem is. As gevolg van sy inwendige beserings het hy nierversaking opgedoen. Dié keer was hy drie weke in die hospitaal, waarvan hy ‘n week en ‘n half in die intensiewe sorgeenheid opgeneem was. Arend het op 20 November ‘n ileostomie ondergaan en sedertdien het dit weldra beter gegaan met hom. Hy het teen einde Desember sonder krukke begin loop. Hoewel hy 23 kilogram sedert die ongeluk verloor het, is hy positief en glo hy dat hy ‘n tweede kans gekry het. “Ek voel die ongeluk moes gebeur het, want na al die sleg het my lewe ten goede verander.” Arend en sy familie het op 20 Februarie spesiaal die brandweerpersoneel van Midvaal Brandweer bedank vir wat hulle tydens die ongeluk vir hom gedoen het. “Mense besef nie wat die brandweer op ‘n daaglikse basis doen nie. As dit nie vir julle was nie sou ek seker nie vandag gelewe het nie,” sê hy. Jonas Mamatela van Midvaal Brandweer wat Arend uit die motorwrak gesny het, het gesê hy is bly om te sien hy leef, want dit is wat hulle doen; hulle red lewens. Arend het steeds seer, maar dit gaan elke dag bietjie beter. Twee weke na die ongeluk het sy werkkontrak verval en nou hou hy hom besig met meganiese tekenwerk by die huis en soek tans werk. Hy het twee dogters, Natasha (19) en Talita (15) wat baie dankbaar is dat hul pappa vandag leef.
* Die Pretorius-gesin wil graag elkeen bedank wat hulle bygestaan en gehelp het gedurende die afgelope paar maande. In besonder Midvaal Brandweer, noodpersoneel van ER24 en Netcare 911, James Engelbrecht van Metro Assist en prof. Jacques Goosen, trauma chirurg by die Unie Hospitaal.








