Bejaarde broers (een blind) veg verbete teen inbrekers
VANDERBIJLPARK. - Om swak en weerloos te wees teen aanvallers is een ding, maar om boonop blind te wees, maak dit nog erger.

VANDERBIJLPARK. – Om swak en weerloos te wees teen aanvallers is een ding, maar om boonop blind te wees, maak dit nog erger.
Victor Lorimer (55) en sy blinde broer Alfred (65) van die Mantevrede-kleinhoewes, het Donderdagoggend 25 Februarie rustig geslaap toe Victor net na 02:00 ‘n geraas by sy venster gehoor het. Die volgende oomblik was hy in ‘n geveg om sy lewe met twee inbrekers betrokke. Een van die inbrekers het hom met ‘n mes aangeval.
Hulle het toegang tot die huis verkry deur die diefwering met ‘n boutknipper (boltcutter) te knip.
Victor het ‘n diep snywond aan sy linkerarm opgedoen, maar hy het aangehou om vir sy lewe te veg. Die bloed het oral teen die mure gespat.
Toe hy val, het hulle op hom toegesak en hom herhaaldelik in die gesig geslaan. Hy het daarin geslaag om van hulle te vlug en hulle in die kamer toegesluit.
Hulle het egter die deur oopgeskop en toe op die blinde Alfred, wat uit sy kamer gekom het om ondersoek na die geraas in te stel, toegesak.
Alfred het homself probeer verdedig deur rond te slaan met ‘n besemstok. Toe die inbrekers agterkom dat die twee mans nie gaan ingee nie, het hulle gevlug.
Hulle is by dieselfde venster uit waar hulle toegang tot die huis verkry het.
Victor het na die aanval sy suster gebel en die polisie en ander familie was vinnig op die toneel. “Uit ‘n huis van 15 kinders het hulle net twee dae voor die voorval nog een van hul broers, Jeffrey (60), verloor nadat hy in Mediclinic Emfuleni oorlede is. “Gelukkig het ons nie vir Alfred en Victor ook verloor nie. Nou is daar net nege van ons 15 kinders oor,” sê Linda Hills (62), hulle suster wat ook blind is. AfriForum het ook die toneel besoek en die gesin die oggend na die aanval bygestaan. Hulle het ‘n ruiker en eetgoed geskenk om hulle te bemoedig in dié tyd. Die nagmerrie was egter nog nie verby nie. Op Saterdagaand 27 Februarie het vier Mosambiekse burgers weer by die broers probeer inbreek. AfriForum se buurtwag onder leiding van Cor Schonborn het hulle egter vasgetrek en aan die polisie oorhandig.



