Sportsterre moet opskud
Dit is weer sulke tyd. Vaaldriehoekse sportlui moet solank hulle getuigskrifte op datum kry, want nominasies vir Vaalweekblad se Sportster van die Jaar-kompetisie is in volle swang. Die kroningsfunksie vind einde November plaas, waar daar hulde aan die Vaaldriehoek se laer- en hoërskole sportseuns en sportdogters gebring word. Ouers, afrigters en onderwysers word die geleentheid …


Dit is weer sulke tyd. Vaaldriehoekse sportlui moet solank hulle getuigskrifte op datum kry, want nominasies vir Vaalweekblad se Sportster van die Jaar-kompetisie is in volle swang.
Die kroningsfunksie vind einde November plaas, waar daar hulde aan die Vaaldriehoek se laer- en hoërskole sportseuns en sportdogters gebring word.
Ouers, afrigters en onderwysers word die geleentheid gegun om sportlui aanlyn te nomineer.
Vaalweekblad nomineer maandeliks sportsterre wat presteer, maar die vangnette moet wyer gespan word.
‘n Aanlyn nominasievorm is hiernaas aangeheg en kan elektronies ingevul word. Die vorm moet daarna aan sportster@mooivaalmedia.co.za of ettienne.vanrensburg@mooivaalmedia.co.za gestuur word.
Die kriteria is eenvoudig: slegs leerlinge wat binne Vaalweekblad se opvangsgebied skoolgaan, sal in aanmerking kom.
Daar is ‘n laers- en hoërskole-afdeling waarin daar ‘n seuns- en dogterswenner in elke kategorie aangewys sal word.
Dan word daar voorts ‘n seuns en dogters sportambassadeur aangewys wat die streek plaaslik en internasionaal met onderskeiding verteenwoordig het.
Die realiteit van die saak is egter dat geen leerling sonder ‘n onderwyser, afrigter, skool of ouer se hulp en bystand kan presteer nie.
Daarom het Vaalweekblad besluit om ‘n Sportvriend van die Jaar aan te wys om erkenning te gee vir ‘n skool wat nie net die gemeenskap, maar ook Vaalweekblad die beste gedurende die jaar bygestaan het met onder meer die vloei van inligting.
Gemeenskapskoerante steun hewig op die gemeenskap en in dié geval veral op skole se ondersteuning en samewerking.
Die Sportvriend van die Jaar word elke jaar met ‘n prys bederf. Vir die sportlui is daar ook lekker kontantpryse en nog vele meer op die spel.
Die kompetisie en kroningsfunksie word jaarliks net groter en groter. Skole en ouers word aangemoedig om leerlinge se prestasie onder Vaalweekblad se aandag te bring.
Provinsiale-, nasionale en veral internasionale deelname sal in die kandidaat se guns tel.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 1 Oktober. Die inskrywingstydperk strek van 1 Oktober 2015 tot 1 Oktober 2016.
Vaalweekblad behou die reg om die aantal finaliste te vermeerder of te verminder.
Die eerste stel nominasies wat deur Vaalweekblad gemaak word op grond van prestasies wat in die koerant verskyn het, sal later vandeesmaand gepubliseer word. Sportstervorm



