Geliefde oud-polisieman en berader van Vereeniging sterf
VEREENIGING. - Medelye het die afgelope week van oral ingestroom na die onverwagse dood van Lieb van Rooyen (49), gewilde voormalige luitenant-kolonel in die polisie, wat veral ook bekend was as ’n berader en mentor in persoonlike groei.
VEREENIGING. – Medelye het die afgelope week van oral ingestroom na die onverwagse dood van Lieb van Rooyen (49), gewilde voormalige luitenant-kolonel in die polisie, wat veral ook bekend was as ’n berader en mentor in persoonlike groei.
“Lieb was altyd ‘n baie sterk mens. Hy was gewoond daaraan om ander mense deur hul probleme te dra, maar sy eie seer het vir hom te groot geword.” Só sê sy suster, Antonetta Groenewald, na sy skietdood verlede week.
Hy is dood aangetref onder ‘n boom by die huis wat hy met sy ouers, Corrie en Lena van Rooyen, in Vereeniging gedeel het. Geen misdaad word vermoed nie.
“Ons is stukkend. Sy dood is veral moeilik vir ons ouers. Lieb het die laaste vier maande al stiller geraak. Dit was maar ‘n sameloop van omstandighede. Ons vermoed hy was depressief, maar hy was nog altyd ‘n introvert wat nie maklik oopgemaak het oor dinge wat hom hartseer gemaak het nie. Hy wou net altyd daar wees vir ander,” sê Antonetta, ’n personeellid by Vaalweekblad en Ster.
Lieb, wat in die Vaaldriehoek grootgeword en aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg gematrikuleer het, was ‘n uitblinker op elke terrein wat hy betree het. In sy meer as 27 jaar in die polisie is hy herhaaldelik geloof vir sy prestasies, en is by meer as een geleentheid aangewys as Polisieman van die Jaar of as toppresteerder in bepaalde kursusse. Hy het uiteindelik hoë poste soos dié van gebiedskommissaris in die VaalRand, operasionele bevelvoerder van Sigbare Polisiëring en assistentdirekteur van personeelbestuur beklee.
Sy tersiêre opleiding, ‘n BA-graad, honneurs- en meestersgraad in Sosiologie (nywerheidsverhoudinge), het hy met vlieënde vaandels aan die Noordwes-Universiteit deurloop, waar hy ook met erekleure beloon is. Hy het ook ‘n meestergraad in kliniese epidemiologie aan die University of Sydney in Australië verwerf.
Hy het in verskeie rade en komitees gedien, en was onder andere registrateur van die Raad vir Beraders (Council for Counsellors – CCSA) in Suid-Afrika. Sy talle vriende en kollegas beskryf hom op Facebook as ‘n perfeksionis, en een van die mees bereidwillige en hulpvaardigste mense wat hulle ooit geken het.
In sy vrye tyd was Lieb ‘n gevorderde 4 x 4-bestuurder, ‘n professionele jagter en ‘n fotograaf. Buiten sy liefde vir mense het hy ook ‘n passie vir plante en diere gehad. Hy was ‘n versamelaar van broodbome en was ‘n teler van bulterriërhonde.
Lieb was ten tyde van sy dood ‘n geregistreerde berader wat baie mense bygestaan het met sake soos traumaberading, huweliksberading, bystand na verkragting, seksuele oriëntasie-terapie, en bystand in die rouproses na die dood van ‘n geliefde.
Hoewel sy gesin nou alleen deur hul eie rouproses moet gaan, troos dit hulle om hom te onthou vir die besondere pa en oupa wat hy was, het sy seuns, Corné (28) en Marius van Rooyen (24), na sy dood aan Vaalweekblad gesê. Buiten sy kinders en ouers word Lieb ook oorleef deur twee kleinkinders en nog ‘n suster, Caroline Botha. Hy word Vrydag om 11:00 uit die Hervormde gemeente in Basheestraat, Drie Riviere, begrawe.



