Drake en Gauteng pak mekaar Saterdag in eindstryd op Senwes Park
Die Noordwes Drake speel Saterdag, 9 April in die eindstryd van die KSA Eendagreeks teen Gauteng. Die wedstryd vind op Senwespark plaas. Toegang vir die wedstryd is gratis en ondersteuners word aangemoedig om ‘n lekker piekniekmandjie te pak om die dag, wat om 09:30 begin, te geniet. Die Drake sal op vol sterkte wees, met …

Die Noordwes Drake speel Saterdag, 9 April in die eindstryd van die KSA Eendagreeks teen Gauteng. Die wedstryd vind op Senwespark plaas. Toegang vir die wedstryd is gratis en ondersteuners word aangemoedig om ‘n lekker piekniekmandjie te pak om die dag, wat om 09:30 begin, te geniet.
Die Drake sal op vol sterkte wees, met die uitsondering van die spelers wat vir die Highveld Lions speel. Die spelers is Dwaine Pretorius, Nicky van der Berg, Rassie van der Dussen en Bjorn Fortuin.
Dit sal ‘n wedstryd wees waarin daar swaar geleun gaan word op spelers soos Wihan Lubbe, Janneman Malan, Richard Frenz en Marques Ackerman. Siviwe Gidana sal ‘n voorslag met die bal moet wees. Dan sal Johannes Diseko weer moet uitblink met die bal, soos wat hy in die Driedag wedstryd teen die einste Gauteng was, toe hy sy loopbaan beste van 5/68 in die eerste beurt opgevolg het met 3/39. Noordwes het die wedstryd met 7 paaltjies gewen na puik bydraes van Wihan Lubbe met 93 in die eerste beurt, opgevolg met ‘n onoorwonne 45 in die tweede beurt.
Die enigste ander wedstryd tussen die twee spanne hierdie seisoen was ‘n wedstryd in die KSA T20 wat ook deur Noordwes gewen is, ook met 7 paaltjies.
Die Noordwes Drake moet dus as gunstelinge op die veld stap.
Die span sou deur Kagiso Rapulana aangevoer word, maar hy is na die Lions groep opgetrek. Wihan Lubbe sal kaptein wees met Isaac Dikgale of Tsolofelo Phukuile wat in Rapulana se plek sal speel. Die res van die span is: Janneman Malan, Richard Frenz, André Malan, Marques Ackerman, Johannes Diseko, Brady Barends, Katleho Leokoake, Findo Mdiza, Siviwe Gidana, Isaac Dikgale en Edrich Lubbe.
Janneman Malan spog met die meeste lopies in die Eendagreeks (278) en het uitgeblink met ‘n onoorwonne 129. Brady Barends is op een na die mees ekonomiese bouler en staan gemiddeld net 3.59 lopies per boulbeurt af.
Die span word afgerig deur Monty Jacobs en sy assistant is Jimmy Kgamadi.



