CommunityLocal newsNewsNews

Verdrinking in Vaaldam het inwoners op die oorlogspad

VAALDAM. – Na die verdrinking van ‘n hengelaar in die Vaaldam verlede week het eienaars van sakeondernemings en inwoners in die gebied besluit om hulle stemme te laat hoor.

VAALDAM. – Na die verdrinking van ‘n hengelaar in die Vaaldam verlede week het eienaars van sakeondernemings en inwoners in die gebied besluit om hulle stemme te laat hoor.

Verskeie grondeienaars wat privaat grond en sakepersele naby die UJ-terrein besit, het Vaalweekblad gekontak oor die situasie op die terrein waar ‘n inwoner van Meyerton verlede week verdrink het. Volgens een van dié eienaars, Jackie van Niekerk wat ‘n hengeloord op dieselfde oewer as die UJ-terrein besit, probeer sy al vir die afgelope twee jaar iemand kry om verantwoordelikheid vir die terrein, en wat daar gebeur, te neem. “Hierdie terrein is nie veronderstel om deur die publiek gebruik te word nie. Daar is geen fasiliteite daarvoor nie. Nêrens om jou vullis te stort nie en geen ablusie-fasiliteite nie.”
Volgens Jackie hou haar werkers haar oord skoon en maak seker daar lê nie gemors rond of vislyn waarin voëls verstrengel kan raak nie.

Die UJ-terrein is egter ‘n ander storie. “Die geboue is geplunder van alles wat enige waarde het. Hulle het in Desember 2013 begin om ‘n betonheining om die terrein op te rig, maar dit is nooit voltooi nie. Vir Jackie is die verval van die terrein nie die grootste probleem nie, maar eerder die rommel wat agtergelaat word. As die dam se watervlak styg, beland al die gemors in die dam.

‘n Man wat grond op die oewer oorkant die UJ-terrein besit, ene Darius, wat nie sy van genoem wil hê nie, het Vaalweekblad oor dieselfde probleem gekontak. “Ek het oor Paasnaweek bykans ‘n duisend voertuie op daardie terrein getel. Jy kan nou vir jouself indink hoeveel rommel so ‘n groot groep mense gaan agterlaat. “Ek het al die Midvaal Stadsraad gekontak, maar hulle maak nie die UJ-terrein skoon nie. Wie moet dit dan doen, of moet dit nou maar net daar bly lê?” vra Darius. Benewens die rommelprobleem, is die toegang tot die UJ-terrein ook ‘n bron van groot kommer. “Mense sit hul bote daar in die water, wat nie aan die regulasies voldoen nie en wat opsigself ‘n misdryf is. Hierdie is die eerste verdrinking op die UJ-terrein en aksie moet geneem word voor dit weer gebeur,” beklemtoon Jackie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button