Probleme met aanlyn-registrasie vir skoolkinders
AfriForum het ouers wat frustrasies beleef met die Gautengse onderwysdepartement se aanlynskoolregistrasieproses uitgenooi om dié probleme onder sy aandag te bring.

AfriForum het ouers wat frustrasies beleef met die Gautengse onderwysdepartement se aanlynskoolregistrasieproses uitgenooi om dié probleme onder sy aandag te bring.
Die burgerregte-organisasie spreek reeds lankal sy kommer uit oor die doeltreffendheid en oogmerke met die aanlynproses. Die probleme wat tans ervaar word, kom ’n lang pad en die organisasie kyk na regsaksie wat moontlik in die verband geneem kan word.
Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, is die jongste poging van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, om ras by die aanlynregistrasieproses se mislukking in te sleep, ’n laakbare poging om klagtes oor die stelsel self te ontduik. Dit gaan net tot polarisasie van gemeenskappe bydra.
Luidens mediaberigte het Lesufi glo gesê dat dit net rassiste is wat oor die mislukte aanlynregistrasie-webblad kla. Hy het glo ook gesê ouers se aandrang op Afrikaanse onderrig vir hulle kinders is ’n poging om slegs wit leerlinge in sekere skole te plaas.
Bloem sê die ongegronde stellings bewys Lesufi is nie vir sy pos geskik nie. Afrikaanse skole se leerlinge is veelrassig – ‘n feit waarvan hy bewus behoort te wees.
Van die probleme wat ouers met die platform ervaar volgens klagtes wat AfriForum gekry het, sluit in dat skole wat as opsies gegee word nie ingesluit is in die omgewings waarbinne ouers woon of werk nie. Dit kan tot gevolg hê dat verkeerde afleidings gemaak kan word oor skole en die taalbehoeftes in gemeenskappe.
“AfriForum is besorg dat indien ouers noodgedwonge verkeerde inligting op die stelsel moet invoer, die data wat so verkry word, tot wanvoorstellings kan lei wat vir die bevordering van ’n agenda teen Afrikaans aangewend kan word,” het Bloem gesê.
AfriForum en FEDSAS moes die departement reeds verlede jaar hof toe neem om die omskakeling van Afrikaanse enkelmediumskole na parallelmediumskole teen te staan.
AfriForum het ouers aangemoedig om alle klagtes rakende die aanlynregistrasieproses te stuur na onderwys@afriforum.co.za.



