Blink toekoms wink vir Sheré
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Om kampvure word daar gespot dat wanneer ‘n bosveldleeu jou jaag, hoef jy nie die vinnigste te wees nie, jy moet net vinniger as die persoon langs jou wees. Indien dié ondenkbare scenario hom ooit moet afspeel, sal meeste sterflinge as ‘n smulhappie vir Koning Leeu opeindig as die 14-jarige …
Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Om kampvure word daar gespot dat wanneer ‘n bosveldleeu jou jaag, hoef jy nie die vinnigste te wees nie, jy moet net vinniger as die persoon langs jou wees.
Indien dié ondenkbare scenario hom ooit moet afspeel, sal meeste sterflinge as ‘n smulhappie vir Koning Leeu opeindig as die 14-jarige Sheré Janse van Rensburg saam met hulle die naaste boom vir veiligheid moet opsoek.
Dié ster-naelloper van die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark het tydens die pasafgelope ASA- en SA skolekampioenskappe gewys dat sy in die 100m en 200m geen gelyke in haar ouderdomsgroep het nie.
In haar ouerhuis pryk die ses goue-medaljes (vier individueel en twee in spanverband) wat sy verwerf het, maar haar brandende hartsbegeerte om die SA-rekord te verbeter sal tot aanstaande jaar moet oorstaan.
In Maart by die Gauteng Kampioenskap is haar rekorddroom eers bewaarheid en toe verpletter, toe sy die SA-rekord in ‘n spogtyd van 24.03s nie-amptelik verbeter het.
Die feit dat dit ‘n handtyd is en die windspoed nie gemeet is nie, is die redes waarom Atletiek Suid-Afrika nie die rekord erken nie.
“Dit was ‘n vreemde gevoel. Ek kon dit vir niemand vertel nie, want hulle sou my nie glo nie,” sê sy met ‘n ironiese en verleë giggel.
By die SA-skolekampioenskap het dié Vaaldriehoeker die wêreld aan die brand gehardloop toe sy die 100m (12.04s) en 200m (24.51s) vir d.o/15 in spogtye gewen het.
Haar wentyd in die 200m was selfs vinniger as die wentye wat die o.17- en o.19 dogtersatlete by die byeenkoms behaal het.
In die 1000m-wisselaflos en 4x100m-aflos het sy as lid van die Gautengspan nog twee goue medaljes verwerf.
Maar by die ASA Kampioenskap wat onlangs in Germiston plaasgevind het, het die ongeluk haar weer soos ‘n stertjie agtervolg.
Hoewel sy eerste oor die wenstreep in die 100m vir d.o/16 genael het, het ‘n fout met die elektroniese tydhoustelsel weer probleme veroorsaak.
Daar is verkeerdelik ‘n nuwe SA-rekordtyd van 11.40s aan haar toegeken, maar die tyd word nie amptelik erken nie.
In die uitdunne het Shere ‘n tyd van 12,20s gehardloop, wat heelwat stadiger as die bestaande SA-rekordtyd van 11,71s was, maar die hele tyd-debakel het haar min getraak.
Sy het ongehinderd voortgegaan om die 200m in ‘n spogtyd van 24.33s te wen en haar groeiende reputasie as een van die land se tokomstige naelloopsterre ‘n verdere oktaaninspuiting gegee.
“Sy is ‘n atleet wat een keer in ‘n leeftyd op ‘n afrigter se pad kom. Sy is fisies en sielkundig sterk. Net wanneer jy dink sy word ore aangesit, skakel sy na ‘n hoër rat oor.
“Sy is selfstandig en oefen baie hard. Sy is enige afrigter se droom,” sê Herman Venske, haar afrigter. Volgens Sheré het haar sukses nie oornag plaasgevind nie. “Ek probeer al lank om SA’s toe te gaan. In Gr.7 het ek dit net-net gemis. Ek het dit eers verlede jaar reggekry om te gaan,” sê sy met breë glimlag wat ‘n mondvol staaldraadjies verklap.
“Nadat ek daar deelgeneem het, wou ek elke keer beter vaar. Eers was ek tevrede met ’n medalje, daarna wou ek wen,” verklap sy haar mededingende natuur.
Sy skram ook nie weg vir ‘n uitdaging nie. Dit is Vrydagaand op die DP de Villiers-stadion bewys toe sy by die Sasol-NWU Senior atletiekbyeenkoms in die 100m-naellope ‘n finale onsuksesvolle aanslag op die SA-rekord gemaak het.
“Ek was baie op my senuwees, maar ek is bly ek het dit gedoen. Ek weet nie wat my tyd is nie, maar darem was ek nie laaste nie.
“Ek gee nie nou om nie, al wat ek wil doen is om cupcakes te gaan eet,” het ‘n sprankelende Sheré na die wedloop aan Vaalweekblad gesê.
*Sheré het Vrydagaand in uitgelese geselskap in ’n tyd van 12.07s sesde geëindig.





