More sal die son weer skyn.
Coach Jorrie Klokslag 12:30 elke Saterdag skop die eerstespan-kragmetings van skole regoor Suid-Afrika op lowergroen of soms droë bruin velde af. Soos ‘n ritueel hardloop die seuns hand styf op die skoolwapen deur ‘n tonneltjie gevul met skreeuende tienermeisies en juniors wat droom om eendag daai eerstespan trui te dra. Die kreet word uit volle …
Coach Jorrie
Klokslag 12:30 elke Saterdag skop die eerstespan-kragmetings van skole regoor Suid-Afrika op lowergroen of soms droë bruin velde af.
Soos ‘n ritueel hardloop die seuns hand styf op die skoolwapen deur ‘n tonneltjie gevul met skreeuende tienermeisies en juniors wat droom om eendag daai eerstespan trui te dra.
Die kreet word uit volle bors geskreeu. ‘n Duidelike waarskuwing aan die teenstanders dat daar vandag nie ‘n sentimeter op die oorlogsveld prys gegee sal word nie, of om ten minste ‘n illusie van vreesloosheid te skep.
‘n Skril blaas van die fluitjie en die wedstryd begin. Groot-oog staan ‘n agtienjarige seun en volg die vlug van die bal, nikswetend oor wat die volgende 70 minute mag inhou. Hierdie met die gedagte van agt stormende voorspelers wat nie eers opweeg teenoor die druk wat reeds vierkantig op sy skouers rus nie.
Druk van ‘n ouer wat sy jeug deur sy bulletjie probeer herleef, druk van ‘n afrigter wat genadeloos bevele uitskreeu, die gewig van ‘n skool wat se bemarkingsplan van ‘n stelskop kan afhang en selfs ‘n jong dametjie wat slegs saam met ‘n eerstepan speler gesien sal word.
Word jong seuns werklik deesdae die geleentheid gegun om ‘n liefde te groei vir ‘n sport wat soveel meer vir hulle kan beteken as wat tussen die kalklyne op ‘n Saterdag gebeur?
Weg is die dae van ‘n halwe lemoen halftyd en woltruie wat al twee jaar terug reeds vervang moes word. Kondisionering en proteïen drankies is nou aan die orde van die dag. Rugby was ‘n spel vir elke liggaamstipe van die osse op vaskopstut, die kamele in die enjinkamer en die skouperde op vleuel. Kreatiewe rugby word uit spelers geforseer met die senter wat ala Sonny Bill die agterarm wil gee wat summier van die veld gehaal word. Hoekom? Want dis ‘n 50/50 en dis nie volgens “coach se gameplan” nie.
Die sekondes stap aan en met sweet op sy voorkop moet die losskakel probeer onthou watter patroon nou gehardloop moet word. Hy kan nie die skool teleurstel nie.
Hoe kan hy weer sy gesig Maandag by die skool wys as dinge nie reg uitdraai nie? Wat gebeur met die skool se naam as die agterblad van die koerant nie volgende week lees soos wat sy skoolhoof verwag dit moet nie? Gaan meneer van der Merwe, wat rustig ‘n lemonade op die skool se uitkykvlak sit en drink, nie sy borgskap onttrek nie? Hy wil tog nie hê sy gesig moet lewensgroot pryk op die telbord van ‘n verloorskool nie. Binne sekondes gly die bal deur sy vingers, as hy maar net kon dink aan wie om voor aan te gee.
Die werklikheid is dat rugby baas is in nie net Suid-Afrika as geheel nie,maar ook in skole. Miljoene rand word ingepomp deur borge. Borge wat geassosieer wil word met wenners. Duisende mense woon plaaslike derby wedstryde by wat dorpe in die helfte skeur en die toekoms van skole word bepaal deur die sukses van ‘n skool se eerste vyftiental. Dankie dat jy skaak speel, maar skuif op dat die eerstespan manne agter in die bus kan sit. Amateur is iets wat nie meer bestaan in skolerugby nie.
Seuns word beurse aangebied deur topskole of deur skole wat hulself sien as die kroonprinse tot die rugbytroon in Suid-Afrika. Beurse waardeur seuns vyf jaar van hul lewe wegteken aan die hoogste bieër. Normale sosiale interaksie is daar nie meer tyd voor nie. Eet rugby, slaap rugby en speel rugby.
Enkele minute oor in die wedstryd besef hy dat die wedstryd verlore is. Dis altyd lekker om te wen, maar hy besef dis ‘n eensame paadjie vanaf die kleedkamer tot die kar na ‘n verloor. Geen glimlaggende gesigte wat wag en kritiek wat om elke draai wag. Vergete is laasweek se wen. Die gedagte word net bevestig dat jy slegs so goed is soos jou laaste wedstryde. Wiskunde is nou ‘n vae gedagte. Selfs die liefde kan vanaand maar wag. Introspeksie gaan nodig wees.
Is dit nie belangrik om te besef dat die skoolgebou eerste daar was en daarna ‘n rugbyveld gegroei is nie. Slegs 1% van alle skoolspelers sal eendag ‘n Springbok wees. Hoekom dan hierdie klem op wen teen alle koste? Sport is ‘n leerskool. ‘n Instrument in die onderwys om die jeug van vandag te vorm. ‘n Klemverskuiwing na die vestiging van waardes is weer nodig. Na ‘n verloor sal die son tog weer skyn.


