Lifestyle

Rooies se musiek is mensgerig

Sedert Rudi Grobbelaar, oftewel die sanger Rooies, se albumdebuut in 1999, vermaak hy gehore met sy vrolike mensgerigte musiek en uitklopkonserte

Sedert Rudi Grobbelaar, oftewel die sanger Rooies, se albumdebuut in 1999, vermaak hy gehore met sy vrolike mensgerigte musiek en uitklopkonserte

Nou, op sy tiende album, Koedoe Bul, bring hy onder meer hulde aan twee van sy ontslape musiekmaters, Zak van Niekerk en Zirk Bergh. Liedjies soos Wie’t al daai blomme geplant?, Daar’s ‘n vetplant in Boesmanland en My plaas se naam is Lekkerkry, word opnuut goedvoeltreffers.

Die liedjieskrywer Ben Beukes het ‘n rits splinternuwe liedjies vir die album geskryf: onder meer Koedoebul, Wat wo en Pap en wyn.

Uit Rooies se pen kom die roerende snit Van Riebeeck: ‘n nugter blik op ‘n Suid-Afrika wat was en aan die verlede gelaat moet word – met ‘n hoopvolle toekomskreet. Dan word die erns weer luimig met Rooies en Kobie Koen se stuitige liedjie, Bokka, jy lyk goed vanaand.

Saam met die ander nuwe snitte, In die kol, Maandag en Dinsdag, Onthou, Dwaalskape en Pieter van der Westhuizen se tydlose komposisies Sout, manne, sout en Bokkie, sê my reg, is hier ‘n album uit die vars grond van Namakwaland.

Tertius Human se produksie (ook orrel en klavier) en die musikante Denny Lalouette (baskitaar), Mauritz Lotz (akoestiese en elektriese kitare), Regardt de Bruin (elektriese kitaar, banjo en konsertina), Brendan Ross (saxofoon), Virgil Ellis (mondfluitjie) en Veronique Lalouette se soomsang verseker uitbundige luistergenot.

Rooies, ‘n voormalige motorwerktuigkundige, is ‘n man van die aarde: lief vir die natuur, lekker kos en opregte mense. Sy positiwiteit word in sy musiek weerkaats.

Rooies se vorige albums is Bulshoekdam (1999), Kliphard (2002), Bobbejaan (2003), 30 Weskustreffers (2004), Rooies Live DVD )2005), Bokkom Mambo (2006), Gewildste Treffers DVD – met Zak van Niekerk en Basjan (2007), Hande van my lyf af (2009), Sexyenekweetdit (2011), 40 Weskustreffers (2013), Rooies se storie-album (2015). Elke album deur Rooies is ‘n stukkie prentklank van ons mooi land en sy mense.

Geniet onopgesmukte vermaak!

Vaalweekbladlesers kan die CD wen! SMS “Rooies”, sy voormalige soort werk en jou naam en van na 45534. SMS’e moet ons nie later nie as Vrydag, 12 Augustus 2016, bereik.

Related Articles

 
Back to top button