NewsNews

‘Ons kon nie eers grawe by die begraafplaaspersoneel te leen kry nie’

VANDERBIJLPARK. - Deeglikheid en goeie beplanning was dwarsdeur haar lewe deel van mev. Henna Botha (92) se karakter. Daarby was sy ook ‘n mens wat nie vir ander moeite of ongerief wou aandoen nie.

VANDERBIJLPARK. – Deeglikheid en goeie beplanning was dwarsdeur haar lewe deel van mev. Henna Botha (92) se karakter. Daarby was sy ook ‘n mens wat nie vir ander moeite of ongerief wou aandoen nie.

Toe sy op 17 Julie na ‘n jarelange, moedige stryd teen kanker oorlede is, was dit glad nie vir haar familie vreemd om uit te vind dat sy haar eie begrafnis tot in die fynste besonderhede beplan het nie. Sy wou dit so maklik as moontlik vir almal maak.

Wat sy nie kon voorsien nie, was dat die kontrakwerkers by die Vanderbijlpark-begraafplaas sou staak en nie haar graf wou toegooi nie.
Wyle mev. Botha se familielede, wat van buite die Vaaldriehoek gekom het vir die begrafnis, het na afloop van die verrigtinge by die graf gewag dat dit toegegooi word, maar moes tot hul ontsteltenis hoor dat die familie dit self moes doen.
“Twee begraafplaaspersoneellede het aangebied om die graf teen R350 elk toe te gooi – dus R700. ‘n Munisipale kontrakteur wat in die begraafplaas was, het ook aangebied om die graf teen ‘n koste van R650 toe te stoot. Ons het egter vooraf vir die oop- en toemaak van die graf betaal en was nie bereid om weer te betaal nie,” sê wyle mev. Botha se skoonseun, mnr. Willie van der Merwe.
“Ons kon nie eers grawe by die begraafplaaspersoneel te leen kry nie. Die familie het solank gaan tee drink en ds. Johan Dorfling het by die graf agtergebly terwyl ek dorp toe moes ry om grawe te gaan koop,” sê mnr. Van der Merwe. Hy was onlangs in ‘n ernstige motorongeluk en kon weens ‘n slegte nek- en rugbesering nie eens self help toegooi nie. Sy vrou en ‘n niggie moes help terwyl die begraafplaaspersoneel net toegekyk het.
“Ons kon uiteindelik kontak maak met Leana Gough wat een van haar werkers, Joseph, saamgebring het om ons te help,” sê hy.
Mnr. Jan Greyling, bestuurder van Avbob Vanderbijlpark, sê dit was nog van altyd af Emfuleni Parks & Cemetries se taak om die grafte toe te gooi. Vanaf middel Junie weier die kontrakwerkers egter om dit te doen.
“Omdat dit voorheen nooit Avbob se taak was om die grafte toe te gooi nie, het ons nie die mannekrag om dit te doen nie. Ons het dus vooraf aan al die families wie se begrafnisse ons behartig het, verduidelik dat hulle hul eie grawe moes saambring. Ons is egter nou in die proses om ‘n privaatpersoon te kry om dié taak te verrig,” sê mnr. Greyling.
Mnr. Van der Merwe sê hy was nie bewus van die reëling nie.
“Waar gaan ons land heen? ‘n Mens kan nie eens meer bekostig om dood te gaan sonder om bribes aan munisipale personeel te moet betaal nie. Ons familie het sommer daar om die graf besluit ons almal wil liewer eendag veras word.”
* Wyle mev. Botha, wat ‘n weduwee was, se familie bedank almal wat hulle deur dié moeilike tyd bygestaan het, in besonder vir ds. Dorfling. Mev. Botha word buiten haar skoonseun ook oorleef deur haar dogter, mev. Maderié van der Merwe, twee kleinkinders en een agterkleinkind.
* Mnr. Stanley Gaba, waarnemende bestuurder, Kommunikasie, Bemarking, Handelsmerk en Geleentheidskoördinering van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag aan Vaalweekblad bevestig dat die munisipaliteit steeds grafte sal toegooi, mits die familie die versoek vooraf skriftelik aan ELM rig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button