VEREENIGING. – Vaalweekblad het op 1 Junie berig oor ‘n jong leerling van die Laerskool Unitaspark, Morné Strassburg (9), wat in die Chris Hani Baragwanath Hospitaal veg om sterk genoeg te word sodat hy ‘n lewensnoodsaaklike nieroorplanting kan ondergaan.
Sy ouers Quintin en Antoinette Strassburg het nou, twee maande later, hul dank teenoor Vaalweekblad en in besonder Jacques Scott van Tyre en Tube in Vereeniging, wat na die noodroep in die koerant om hulp, hulle bygestaan het tot Morné ontslaan is, uitgespreek.
Mornè is op 23 Julie ontslaan en is op 1 Augustus terug skool toe sodat hy weer kan deel word van sy daaglikse roetine. Mornè kry op die oomblik elke aand dialise en is op medikasie en inspuitings vir sy HP en sy yster. Volgens Antoinette doen hy baie goed en is hy baie beter, maar nog nie gesond nie.
“Ons wil dankie sê aan almal wat vir ons en ons kind gebid het, almal wat ons finansieel en emosioneel gehelp het. Ook vir die Chris Hani Baragwanath Hospitaal en almal wat aangebied het om skenkers te wees,” het Antoinette aan Vaalweekblad vertel. Sy het bygevoeg ‘n spesiale dank aan ons Hemelse Vader wat hul deur die tyd gedra het.

Die gevreesde dag het vir sy ouers op 25 Mei begin toe hy in ‘n ernstige toestand na die hospitaal gejaag is. Twee dae later, op 27 Mei is Morné omstreeks 05:00 die oggend na die Chris Hani Baragwanath Hospitaal oorgeplaas. Morné was egter baie swak en moes eers aansterk en dokters het dadelik met dialise begin.
“Dit is in die stadium nog nie duidelik wanneer die nieroorplanting gaan plaasvind nie. Dokters wil hom in die nuwe Nelson Mandela kinderhospitaal opneem vir die oorplanting, anders moet hy tussen die Johannesburg Algemene Hospitaal en die Chris Hani Baragwanath Hospitaal vervoer word en die dokters sê dit gaan hom te veel uitput,” vertel Antoinette.
Volgens Antoinette gaan hulle dán eers kyk vir ‘n geskikte kandidaat vir die nier. Die geskikte kandidaat sal in die A+ bloedgroep moet wees en pa en ma sal dan eerste getoets word. Volgens die dokters is dit ‘n lang proses en die persoon wat bereid is om ‘n nier te skenk moet bereid wees om sy/haar lewenswyse te verander na so ‘n operasie. Eers na die skenker se uitslae positief is, sal die persoon berading ontvang voor die groot operasie. Antoinette sê Morné vorder baie goed en sy volgende besoek aan die hospitaal is op 17 Augustus.



