BLOEMFONTEIN. – ‘n Unieke pigmentasievlek op die geslagsdeel van die pedofiel-pa van Vaalpark het al sy kanse op onskuldigbevinding gekelder.
In die hofsaak wat tans in Bloemfontein plaasvind, is daar verlede week aangehoor hoe hierdie pigmentasievlek sy foto’s van kinderpornografie wêreldwyd uniek gemaak het vir ander versamelaars van kinderpornografie.
Regter Jake Moloi het aangehoor hoe die Gautengse polisie se provinsiale kinderbeskermingseenheid die pa van twee dogtertjies aangekeer het nadat hul eweknieë in Australië hulle van sy bedrywighede op sosiale media laat weet het.
Dié 42-jarige Vaalparker het vroeër skuld op 935 aanklagte van die besit, verspreiding en maak van kinderpornografie en seksuele aanranding beken. Hy het skuld ontken op aanklagte van verkragting.
In die meeste van die pornografie-aanklagte was sy eie twee dogtertjies (destyds ses en sewe jaar oud), en die buurman se dogtertjie op die foto’s wat hy geneem het waartydens hy hy sy geslagsdeel in of teen hulle druk. Talle van sy kinders se maatjies is ook afgeneem.
Die Volksblad het berig dat Kaptein Veronica Banks getuig het om deur die “versamelaars” op kinderpornografiese webwerwe aanvaar te word, moet voornemende gebruikers hulself eers “bewys”. Die man moes eers oorspronklike foto’s, wat hy verkieslik self geneem het, verskaf. Die foto’s met die vlek op was uniek. Een van die web-skuilname wat hy gebruik het, was “Lilpanty”. Hy het in ’n kletskamer gesê hy is ’n vervaardiger.
Kaptein Banks het getuig sy het die ander meisies in die foto’s ook opgespoor. Nie een van hulle kon onthou wat die man aan hulle gedoen het nie.
Sy jongste dogter kon ook nie ’n verklaring aflê oor wat haar pa aan haar gedoen het nie. Haar suster het geweet wat hy gedoen het en daaroor getuig. Altesame 228 000 foto’s van kinderpornografie is op die man se rekenaars en hardeskywe gekry toe hy in 2014 in hegtenis geneem is.
Hy het voor regter Jake Moloi erken dat hy ’n pedofiel is. Hy het ook die meisies se broekies versamel, maar weet nie hoekom nie. Die sluier is ook effens gelig oor die bedrywighede van sy “kollegas in kinderpornografie.”
Die een groep gee nie om of hulle die kinders seermaak nie en ’n ander groep wil hê die kinders moet dit geniet. Hulle fantaseer dan dat die kinders vir nog sal vra. Hy het getuig hoe hy “suutjies” saans wanneer die meisies slaap, hul klere uitgetrek en die foto’s en video’s geneem het. Net sy oudste dogter en een ander meisie was wakker toe hy hulle afgeneem het.
Oor sy dade met sy oudste dogter (toe 7 jaar oud) het die man getuig dit het begin met ’n spelery wanneer hy room aan haar smeer. Hy het beweer hy het haar nooit gepenetreer nie.
Adv. Ena Liebenberg (vir die staat): “Is dit dan toevallig dat die foto’s penetrasie toon en sy in haar getuienis dit bevestig het? U spog daarmee op die internet.”
Sy het gesê in die kletskamer was hy selfs bereid om sy dogters met ander te deel. Hy het dít as net “’n pratery” afgemaak. Hy het erken hy het die foto’s en video’s geneem om homself seksueel te bevredig. Die verhoor duur voort.



