Estelle Kapp van Vanderbijlpark skryf:
Ek wil graag hoor of Vaalweekblad se lesers kan help. Op 13 September word ek op die Stokkiesdraaipad deur verkeersbeamptes afgetrek vir spoed. Die beampte het nie die voertuig voor my afgetrek nie, hoewel ek sekerlik dieselfde spoed as hulle gery het.
Sy vra my om uit te klim en te gaan kyk hoeveel ek gery het: 99 kmpu. So, vra ek die beampte, hoe weet ek dit is my spoed en nie die voertuig voor my nie? Haar antwoord was dat ek die enigste voertuig op die pad was. O nee. Toe nie. Dit was na skool en ek was soos ander ouers op pad om my kind by die huis te gaan aflaai.
Die beampte wou in my voertuig klim en het gedreig om my te laat toesluit. Sy sê toe die spoed op die Stokkiesdraaipad is 60 kmpu en of ek nie die padteken gesien het nie. Ek vra toe waar is die bordjie en sy wys toe op die draai. Daar is geen bordjie op daardie skerp draai wat sê jy moet 60 ry nie. Ek het haar net gesê sy moet doen wat sy moet en sy gee my toe ‘n R1 000 boete.
Ek het die volgende dag DIE PADTEKEN gesien by Rafterz se stopstraat, rigting Stokkiesdraaipad. Ek ry al 11 jaar hierdie pad en nog nooit was daardie padteken daar geplant nie. Ek neem toe foto’s van die vars grond om die verkeerstekenpaal, wat vir my bevestig dat die dag toe die padteken geplant is, dieselfde dag is wat hulle met hul kamera die motoriste afgetrek en beboet het.
In die 11 jaar wat ek die pad ry, het ek nog nooit die padteken gesien nie. Ek is nie onnosel nie. Sê asseblief of ek vir 11 jaar blind was as julle na die foto’s kyk. Baie dankie.