NewsNews

Man vermoor tydens inbraak

VANDERBIJLPARK. - ‘n Moord het die naweek die dorp se inwoners geruk, toe inbrekers twee bejaardes in CW5 oorval het en die bejaarde man met sy lewe geboet het.

//

Michael de Wet (80), wat Sondag 81 jaar oud sou word en sy vrou Marge (79), is Saterdagoggend, 1 Oktober omstreeks 06:30 in hul huis in De Foreststraat deur twee inbrekers oorval. Volgens James Wright, bekende in die dorp, buurman van die De Wet egpaar en jarelange vriend, het hy op Michael se lyk in sy kamer afgekom.
James het aan Vaalweekblad vertel dat sy skoonseun, Jacques de Klerk en sy dogter Sonica omstreeks 07:40 op pad was om te gaan fietsry toe hulle Marge hoor skree.
Aanvanklik het hulle gedink sy het seergekry met iets soos ‘n lap of verband om haar hande, maar by nadere ondersoek het hulle gevind dat haar hande vasgebind was. Marge se voete was ook vasgebind, maar sy het haarself losgewikkel en hulp gaan soek.
Marge het aan James vertel dat Michael vroegoggend in sy heiligdom (sy motorhuis) wou gaan werk terwyl sy vinnig gekyk het op haar selfoon of daar enige boodskappe van hul kinders af is en dan koffie sou gaan maak het. Michael is in die sitkamer oorval en teruggedwing in die huis in.
Die twee oumense het terugbaklei en Michael is blykbaar van die kombuis na die kamer gesleep. Sy neus is vermoedelik gebreek en hy is verwurg. ‘n Nadoodse ondersoek is Maandag gedoen, maar die uitslag was teen druktyd nog nie bekend nie. Marge het ook terugbaklei en het baie houe verduur en ‘n snywond aan die arm opgedoen. Volgens haar het sy een van die inbrekers gebyt. Sy is egter vasgebind en onder die bed ingedruk.
Die inbrekers het toegang agter in die erf verkry en ‘n gat in die venster gemaak en die diefwering te draai totdat dit afgebreek het. Sowat R1 000 kontant, selfone en juweliersware is gesteel.
James se boodskap aan die publiek is duidelik: “Wees versigtig. Inwoners van ons dorp leef deesdae heeltemal te gerus en reken hulle is veilig, totdat iets met hulle gebeur,” sê James.
Mike laat sy vrou Marge en drie seuns Bruce, Arthur en Piet agter. Die datum van sy gedenkdiens was teen druktyd nog nie bekend nie, aangesien van die kinders oorsee woon en besig is met reëlings om die diens by te woon.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button