
12:31 – Adjudant Offisier Sithole van die forensiese-afdeling in Vereeniging het sy plek in die getuiebank ingeneem en foto’s wat op die toneel geneem is, is bevestig en die items wat gevind is.
Ao. Sithole het ‘n leerhandskoen (linker hand) op die toneel gevind en dit geseël asook ‘n 9mm Browning-pistool wat oorgehaal was. Hy het die vuurwapen beveilig. Verder het hy die patroondoppies geidentifiseer en bevestig dat dit die patroondoppies is wat hy by die toneel in die verskillende vetrekke gevind het.
Ao. Sithole het ook twee haelgewere gevind waarvan een in die kluis was en een sonder ammunisie.
Na middagete het ao. Sithole getuig dat hy en kaptein Van Rooyen van die balistiese-eenheid ‘n dakluik in die motorhuis gevind het. Ao. Sithole het opgeklim en ‘n 9mm Taurus-vuurwapen met lewendige ammunisie en ‘n satynagtige handskoen gekry. Nog ‘n rewolwer met ses patrone in die magasyn wat ook oorgehaal was is gevind en ‘n handskoen wat dieselfde lyk is in die huis gekry.
Kouse met bloed op en ‘n baadjie is in die motorhuis gevind.
14:15 – Daar word gekonsentreer rondom die skuifdeur se slot op die foto’s en of die slot foutief was.
Advokaat Van Der Merwe vra ao. Sithole uit oor DNA-toetsmonster op die handskoene en hoe hy die toetse uitgevoer het.
Daar word ook gevra oor die kruittoetse op die handskoene.
14:30 – Advokaat Van Wyk vra ao. Sithole uit oor die sketsplan van die huis wat hy op die toneel geteken het. Twee mure wat nie op die sketsplan is nie, word betwyfel.
14:41 – Die hof verdaag en Sithole sal sy getuienis voortsit waarna Lisa Fouché, familielid van die Thea, Woensdagoggend gaan getuig.


















